Op verlede Donderdag (28 November) se raadsvergadering is die wyksprojekte vir die verskillende wyke binne die Drakenstein-munisipaliteit (DM) vir 2025 bekendgemaak.
Volgens die agenda van die raadsvergadering word hierdie projekte deur die munisipale raad goedgekeur, terwyl die kantoor van die Speaker “verantwoordelikheid neem om oorsig te hou oor die vordering van die wyksprojekte en kwartaalliks ’n verslag daaroor aan die munisipale raad voor te lê”.
“Wyksprojekte is projekte en programme wat deur die wyksraadslid en relevante wykskomitee geïdentifiseer is om te verseker dat daar ’n doelgerigte en gefokusde benadering is om behoeftes van die wyk aan te pak wat nie deur die normale daaglikse bedrywighede van die munisipaliteit gedek word nie,” lui die agenda.
Volgens Koos le Roux, Speaker van die DM, word daar R260 000 aan elke wyk per jaar toegestaan om die projekte te finansier.
“Hierdie bedrag sluit ’n jaarlikse toelae van R3 600 per wykskomiteelid in, terwyl die res van die bedrag vir wyksprojekte aangewend word,” sê Le Roux.
Paarl Post het die DM gevra of die finansiële verslae aangaande die uitgawe van die R260 000 bekendgemaak word.
Volgens Le Roux word alle “projekte onder oorsig uitgevoer en volledige verslae word oor elke projek by die administrasie ingedien”.
Hy sê die verslae is openbare rekords en beskikbaar vir insae by die administratiewe oorsigkantoor.
Die DM beskik oor altesaam 33 wyke wat ’n gemiddelde van 15 wyksprojekte per jaar aanpak.
“Dit genereer ’n groot hoeveelheid dokumentasie wat verslae, teenwoordigheidsregisters, fakture, kwotasies, foto’s en ander dokumente insluit wat by die oorsigkantoor besigtig kan word,” sê Le Roux.
Indien daar geld van die R260 000 oorbly, word dit volgens Le Roux as ’n begrotingsbesparing op die DM se boeke beskou.
Wyksprojekte sluit in vroeëkinderontwikkelingsprogramme, die ondersteuning van sopkombusie en ’n ver-skeidenheid gemeeenskapsprojekte, asook donasies aan buurtwagte en sportklubs.