Drakenstein-munisipaliteit betoog teen Eskom se beplande 40%-verhoging

Dit is ’n waansinnig hoë elektrisiteitsprysverhoging wat gaan lei tot werkloosheid, armoede en maatskaplike onrus en gaan die Drakenstein-munisipaliteit in ’n posisie plaas waar hy dienste nie doeltreffend sal kan lewer nie.


Dit is ’n waansinnig hoë elektrisiteitsprysverhoging wat gaan lei tot werkloosheid, armoede en maatskaplike onrus en gaan die Drakenstein-munisipaliteit in ’n posisie plaas waar hy dienste nie doeltreffend sal kan lewer nie.

Dit was Maandag (30 September) die woorde van Stephen Korabie, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, wat ’n vreedsame optog deur die Paarl gelei het in protes teen die voorgestelde elektrisiteitsprysverhoging van 40% deur Eskom en die Nasionale Energiereguleerder (Nersa).

Die verhoging, indien dit goedgekeur word, sal dan reeds op 1 April aanstaande jaar in werking tree.

Nersa het verlede week Eskom se aansoek om sowat R429 miljard uit kragtariewe in die volgende boekjaar in te samel, vir openbare kommentaar gepubliseer.

Die spesifieke tariewe wat verskillende groepe verbruikers sal betaal, sal eers later bereken word, maar dit is duidelik dat die meeste Eskom-kliënte van 1 April 2025 ’n volle 36% meer sal moet opdok om hul ligte aan te hou as Nersa vir Eskom sy sin gee.

Eskom vra ook R481 miljard vir die 2026-’27-boekjaar en R537 miljard vir die jaar daarna. Dit sal tot verhogings van onderskeidelik sowat 12% en 9,1% lei.

Van 2009 tot nou het Eskom al sy kragprys met 450% verhoog. Die werklikheid is dat mense se salarisverhoging nie eens naby aan hierdie jaarlikse prysverhogings kom nie. Ons verwerp hierdie verhoging met alles wat ons het,
Stephen Korabie, Drakenstein-burgemeester

Inwoners is gevra om die afgelope Maandag saam met Korabie en ’n afvaardiging van die raad asook amptenare van die provinsiale regering tot by die munisipaliteit se hoofkantoor in die Paarl te betoog, waar ’n memorandum deur die stadsbestuurder, dr. Johan Leibbrandt, ontvang is.

“Die doel van hierdie betoging is om ’n duidelike, ondubbelsinnige boodskap aan Eskom en Nersa te gee dat hierdie kragprysverhoging eenvoudig te hoog is. Dit gaan te veel druk op ons mense plaas.

“Op die oomblik ervaar ons reeds ’n ekonomiese krisis. Hierdie verhoging gaan beteken dat ’n ma sal moet besluit of sy krag of kos gaan koop.

“Kleiner sakeondernemings gaan eenvoudig hul deure moet sluit. Niemand kan ’n 40%-kragprysverhoging bekostig nie,” het Korabie gesê.

“Hierdie verhoging gaan beteken dat ons as ’n munisipaliteit gaan sukkel om ons dienste gelewer te kry.

“Van 2009 tot nou het Eskom al sy kragprys met 450% verhoog.

“Die werklikheid is dat mense se salarisverhoging nie eens naby aan hierdie jaarlikse prysverhogings kom nie.

“Ons verwerp hierdie verhoging met alles wat ons het,” het Korabie tydens Maandag se betoging gesê.

In die memorandum wat Leibbrandt ontvang en onderteken het, eis die munisipaliteit dat Eskom die voorgestelde verhoging laat vaar.

“Huishoudings met ’n lae inkomste gaan sukkel om vir hul dienste te betaal en dit gaan lei tot ’n toename in skuld en ontkoppeling van dienste.

“Die verhoging plaas druk op ondernemings en kan moontlik lei tot werksverliese. Dit is nadelig vir ekonomiese groei,” lui die memorandum.

Die memorandum maak verder melding van maatskaplike onrus, voedselsekerheid en dat die munisipaliteit oor die algemeen gaan sukkel om dienste te lewer.

Die munisipaliteit stel verder voor dat Eskom alternatiewe kragopwekking oorweeg, maatreëls instel om energieverbruik te verminder, en laer-inkomste-huishoudings subsidieer.

Die stadsbestuurder is gevra om die memorandum aan die betrokke rolspelers te stuur, aan wie 14 dae gegee is om op die besware te reageer.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.