PAARL – Die Drakenstein-munisipaliteit (DM) het verlede week op ‘n raadsvergadering onthul hy beplan om altesaam 56 poste te sny, wat die munisipaliteit R19,3 miljoen gaan bespaar.
Volgens die munisipaliteit se departement korporatiewe en beplanningsdienste is altesaam 2 748 poste geïdentifiseer wat as finansieel onvolhoubaar bestempel is.
Die raad het Donderdag (11 Desember) oorweging aan die item gegee, waartydens aangevoer is dat die munisipale organisatoriese struktuur in Junie 2022 laas hersien is.
Klein veranderings is oor die jare gemaak en deur die burgemeester en stadsbestuurder goedgekeur ingevolge die gedelegeerde bevoegdheid soos deur ‘n vorige raadsbesluit bepaal.
Hierdie aanpassings was daarop gemik om die munisipaliteit se voortgesette doeltreffende funksionering te verseker.
Senior bestuur het die behoefte geïdentifiseer aan verdere operasionele veranderings aan die huidige struktuur om verbeterde funksionaliteit, beter belyning tussen departemente en meer doeltreffende benutting van beskikbare hulpbronne te verseker.
“Die huidige organisasiestruktuur sluit 2 748 poste in, wat as finansieel onvolhoubaar beskou is. Gevolglik is daar ‘n behoefte om poste, wat nie vir korttermyndienslewering noodsaaklik is nie, af te skaf. Altesaam 56 poste is afgeskaf, wat ‘n berekende besparing van R19,3 miljoen tot gevolg gehad het,” lui ‘n dokument wat deur die departement van korporatiewe en beplanningsdienste aan die raad voorgelê is.
Paarl Post verstaan dat die item verlede week slegs gedeeltelik deur die raad aanvaar en goedgekeur is.
Die raad het aanvaar dat die gemeenskapsdienste- en openbare veiligheidsdepartemente nou een departement word.
Die res van die strukturele veranderings en gepaardgaande afskaffings gaan in die nuwe jaar eers met raadslede op ‘n reeks werksessies bespreek word.
Paarl Post het twee weke gelede berig oor die samesmelting van gemeenskapsdienste en openbare veiligheid.
LEES: Drakenstein-munisipaliteit smelt twee ‘kritieke’ departemente saam
Seraj Johaar, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, het toe al gesê dat hierdie herstrukturering tot finansiële besparings vir die munisipaliteit sal lei.
“Die Drakenstein-munisipaliteit se gemeenskapsdienste en openbareveilig- heidsdienste het voorheen as ‘n enkele departement gefunksioneer en ons is vol vertroue dat die aanstelling van een uitvoerende direkteur om hierdie groep dienste te lei, doeltreffende leiding en bestuur van al die funksies sal verseker.
“Aangesien die nasionale departement, wat verantwoordelik is vir plaaslike regering (Cogta), nog geen kennisgewings oor die boonste salaris-
skale van senior bestuurders uitgereik het nie, en omdat hul bestaande kennisgewings nie implementeerbaar is nie, is ons nie in staat om kandidate te lok om vir die pos [uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste] aansoek te doen nie,” het hy by ‘n vorige navraag gesê.
Die amp van uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste is sedert Augustus verlede jaar vakant nadat Gerald Esau ontslaan is.





