Die Drakenstein-munisipaliteit (DM) sê die beskerming en instandhouding van sy begraafplase en verwante infrastruktuur sal in die nuwe boekjaar ’n groot fokuspunt wees en die nodige aandag ontvang.
Dit kom te midde van ’n toename in vandalisme by verskeie munisipale sowel as private begraafplase.
Paarl Post berig sedert die begin van die jaar oor die toestand van verskeie munisipale begraafplase in onder meer Wellington en die Paarl.
Vorige nuusberigte het gefokus op inwoners se ongelukkigheid met gras wat hoog tussen grafte groei, grafte wat gevandaliseer word en die omheinings wat gesteel word en dit maklik maak vir vandale om toegang tot die persele te kry.
Die Ou Hofstraat-begraafplaas in Bergrivier-Boulevard is onlangs in die kollig geplaas nadat dit ook onder vandalisme gebuk gegaan het.
Die omheining van hierdie begraafplaas aan die kant van die Bergrivier is ook stuk-stuk weggedra.
Toe die koerant die begraafplaas verlede week besoek, was verskeie vuurmaakplekke onder bome sigbaar.
Menslike ontlasting en stukkende glasbottels was oor die hele begraafplaas sigbaar.
Paarl Post se besoek aan die perseel volg nadat ’n leser sy ongelukkigheid in ’n brief gedeel het.
“In ’n beskaafde dorp soos die Paarl behoort elkeen met respek behandel te word, selfs die afgestorwenes. Indien dit wel vandalisme is, moet dit [die hoof gebied] word. Hulle het dalk nie meer ’n stem nie, maar hulle behoort nog gehoor te word,” het die leser in die brief gesê.
Eda Barnard, die Drakenstein-munisipaliteit se waarnemende uitvoerende direkteur vir gemeenskapsdienste, het by navraag gesê hierdie begraafplaas in nie munisipale eiendom nie.
“Die Ou Hofstraat-begraafplaas behoort aan ’n private kerk, wat beteken dat die instandhouding daarvan nie die munisipaliteit se verantwoordelikheid is nie. Ons is egter in kontak met die kerk oor hierdie instandhoudingskwessies,” het Barnard gesê.
Sy sê die munisipaliteit het in sy begroting vir die volgende finansiële boekjaar voorsiening gemaak vir die instandhouding van begraafplase.
“Die munisipaliteit sal ’n gefokusde plan saamstel en implementeer om te verseker dat ons geliefdes in waardigheid rus. Ons tegniese spanne ondersoek tans verskeie opsies in hierdie verband.”
Tydens die onlangse aanbieding van die 2024-’25-begroting het Stephan Korabie, Drakenstein se uitvoerende burgemeester, ook ’n hernude fokus op die begraafplaasfunksies in Drakenstein aangekondig.
“Die beskerming en instandhouding van ons huidige begraafplase en verwante infrastruktuur is ’n groot fokuspunt wat die nodige aandag in die nuwe boekjaar sal ontvang.”
Hy het die verdere vestiging van die nuwe Nieuwedrift-begraafplaas teen ’n waarde van R3 miljoen as een van die hoofkapitaalprojekte vir die 2024-’25-boekjaar aangekondig.
Intussen het die Paarl-belastingbetalersvereniging volgehou dat die verantwoordelikheid by Drakenstein berus om alle munisipale begraafplase behoorlik in stand te hou.
“Waar ’n plaaslike owerheid ’n verpligting het om na begraafplase om te sien, verwag inwoners en belastingbetalers dat dit nagekom moet word.
“Daar moet behoorlike beplanning gedoen word om hulle te bestuur, bevoegde personeel in die bestuur aan te stel en voldoende inkomste moet genereer word om dit te finansier,” het David Frost, die voorsitter van die Paarl-belastingbetalersvereniging, vandeesweek gesê.
“Met die verlaging van vlakke van respek en die daling van waardes het die gemeenskap ’n beslissende rol te speel in hierdie herstelwerk.
“Sosiale kohesie neem af en dit is moeilik om altyd behoorlike waardes te behou.
“Respek en agting vir die dooies behoort nooit onderhandelbaar te wees nie,” het hy gesê.