Dit is goed en wel om toekennings te kry vir die nommer een- secondary cityfor good governance in South Africa, maar is dit nie ook net ’n geval van bo blink onder stink vir die Drakenstein-munisipaliteit nie?

Tog wil ’n mens net ’n pluimpie gee aan die stadsbestuurder, dr. Johan Leibbrandt, vir hierdie soort toekennings wat ontvang word. Ek praat uit ondervinding van sy leierskap wat hierdie munisipaliteit dryf sodat hy wel aan die vereistes in die vier afdelings waarvolgens die munisipaliteit evalueer is, voldoen.

Ons is twee weke gelede reeds gewaarsku oor “natuurlike rampe en anargie”, en die afgelope naweek het ons werklik gesien hoe die natuur ons lewe in ’n oogwink kan verander.

Wel, ’n pluimpie aan die direkteur vir ingenieursdienste, Louis Pienaar, wat Sondag fluks saam met sy span gewerk het om bome wat paaie versper en kraglyne wat deur bome platgeval is, te herstel.

Wat my egter bekommer, is die rampgereedheid en koördinering van die munisipaliteit wanneer dit by rampe kom.

Met verskeie struktuur- en veldbrande – ook Paarlberg het gebrand – is die vraag weer eens: hoe gereed is ons? Weet enige inwoner wat werklik moet gebeur wanneer ons deur ’n ramp getref word? Weet ons met watter roetes gevlug moet word en word die nuwe rampbestuursplan wat uit my pen, kom wel toegepas?

Die vraag is steeds hoe word rampe in Drakenstein gekoördineer en bestuur, of sit elkeen maar by die huis en bestuur rampe op WhatsApp of die telefoon?

Dit is tyd vir die stig van ’n Disaster Risk Management– (Rampbestuursrisiko-) sentrale beheerkamer in Drakenstein met ’n hoof aan die stuur van sake – iemand met die nodige kennis om elke ramp te bestuur.

Die Rampbestuurswet van 2002 praat van rampbestuursvrywilligers wat opgelei kan word. Hier is so baie mense wat bereid is om tydens rampe te help, maar waar is die beleid en waar is die strategiese plan?

Voor ons deur staan en loer die winter weer vir ons met nog oorstromings en nog rampe wat ons in die gesig staar, maar waar is die risikobepalings wat gedoen moet word? Om net twee te noem – riviere en informele nedersettings.

En dan aan die nuwe eerste burger van die dorp – baie geluk en sterkte. Ek hoop dat u ’n besem saamgebring het, want ons kort ’n nuwe besem om skoon te vee ná al hierdie storms binne en buite die munisipaliteit.


Jeron Roux,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.