PAARL – Die Drakenstein-munisipaliteit het vandeesweek gerugte bevestig dat ‘n afgedankte munisipale amptenaar steeds in ‘n munisipale huis in Simondium woon en dat ‘n inbraak onlangs by dié eiendom aangemeld is.
Ernest Saayman, ‘n voormalige senior bestuurder in die gemeenskapsdiente-afdeling, is in November verlede jaar afgedank en weier glo volgens die munisipaliteit om die eiendom te ontruim.
Paarl Post het inligting bekom oor ‘n inbraak wat glo sowat twee maande gelede by die groot plaashuis in Simondium plaasgevind het.
Die bron het vertel dat dit hoofsaaklik Saayman se persoonlike besittings is, waaronder elektroniese toestelle, wat gesteel is.
Die eiendom is geleë op die grond waar die Simondium-behuisingsprojek onderweg is.
Toe die koerant die eiendom vandeesweek gaan besoek het, was Saayman nie daar nie.
Daar was wel veiligheidswagte wat patrolliewerk op die plaas doen en toegangsbeheer toepas.
Seraj Johaar, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur vir korporatiewe en beplanningsdienste, het die gerugte vandeesweek by navraag bevestig.
“Ons bevestig dat mnr. Saayman in November 2024 uit die diens van die munisipaliteit ontslaan is. Hy ontvang geen salaris of enige voordele van die munisipaliteit nie.
“Ten tyde van sy ontslag het hy in ‘n munisipale eiendom in Simondium gewoon, wat hy sedertdien geweier het om te ontruim, ten spyte van talle opdragte van die munisipaliteit om dit te doen.
“Die munisipaliteit volg tans die nodige uitsettingsproses om hom van die eiendom af te laat verwyder,” het Johaar gesê.
Volgens Johaar is geen koste tans vir die munisipaliteit aan dié betrokke eiendom verbonde nie.
“Daar is ook geen roerende bates van die munisipaliteit in die eiendom nie. Tydens die inbraak, wat deur die munisipaliteit bevestig kan word, is geen roerende bates van die munisipaliteit gesteel nie,” het Johaar bygevoeg.
Saayman was die senior bestuurder vir parke, sport en begraafplase – ‘n afdeling van die departement gemeenskapsdienste binne die munisipaliteit.
Hy is reeds in Maart verlede jaar geskors, waarna ‘n tugverhoor plaasgevind het.
Die munisipaliteit het tot vandag toe nie aangedui waarvoor hy ondersoek en waaraan hy skuldig bevind is nie.
Saayman het vandeesweek by navraag gesê die skade na die inbraak beloop meer as R116 000.
Hy sê die uitsettingsprosesse is niks ander as verdere persoonlike aanslae nie.
“Wat maak vir my so spesiaal? Daar is sowat agtien ander voormalige munisipale werkers wat ook nog in munisipale eiendomme woon,” sê hy.
Volgens Saayman het hy die inbraak onder die aandag van die munisipaliteit gebring.
“Hoe vind ‘n inbraak enkele meter plaas vanwaar veiligheidswagte sit. Veiligheidswagte wat deur die munisipaliteit aangestel is. Die huis se plate was gesteel. Hoe het niemand niks gehoor nie?”
Hy sê die einste Johaar het dit egter duidelik gemaak dat die munisipaliteit hom nie gaan ondersteun met enige eise nie.
Saayman sê hy sal voortaan in die huis beset aangesien die stadsbestuurder, dr. Johan Leibbrandt, hom die mandaat gegee het om daar te woon.





