Nadat die Paarl Post vroeër in Oktober berig het oor die beweerde onwettige praktyke wat sedert 2011 by die Drakenstein-krematorium onder die vaandel van die huidige eienaar, Johann van der Merwe, plaasvind, word dit tans deur die nasionale departement van omgewingsake (Groen Skerpioene) ondersoek.
In die vorige artikel (10 Oktober) het die koerant melding gemaak van aantygings wat deur twee betroubare bronne gestaaf is, en deur Johan Rousseau, die voorsitter van die vereniging van hervormde begrafnisondernemers (Fira), bevestig is.
Van dié aantygings sluit in dat liggaamlike weefsel, beendere en as op stortingsterreine in die Drakenstein-vallei gestort word, dat honde saam met mense veras word, en dat meer as een liggaam op ’n slag veras word.
Hierdie en ander onwettige praktyke het glo tot ten minste 2022 plaasgevind.
Volgens Peter Mbelengwa, ’n woordvoerder van die Groen Skerpioene, vorm die ondersoek deel van “beweerde oortredings van die Wet op Nasionale Omgewingsluggehalte en die Wet op Nasionale Omgewingsbestuursafval”.
Volgens hom was dieselfde krematorium ook in 2010 ondersoek, waarna die eienaar, Ada Joubert, op 14 April 2010 skuldig bevind en gevonnis was vir die oortreding van die “Wet op die Voorkoming van Atmosferiese Besoedeling”.
Die vraag wat die koerant in sy vroeëre berig aan die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) gestel het, asook aan die openbare beskermer en later aan die provinsiale departement van omgewingsake, is waarom hierdie owerhede, wat oor die mandaat beskik om die krematorium aanspreeklik te hou, misluk in hul taak om die dooies te beskerm?
Dié vraag bly steeds onbeantwoord in navrae aan al drie staatsdepartemente.
Paarl Post was op 21 Oktober deur die KWDM uitgenooi om by die krematorium besoek af te lê.
Op die oog af was die gebou skoon en netjies, met slegs een liggaam wat in die een oond waaroor die krematorium beskik, veras is, en doodskiste (ongeveer 20) wat in die werkende yskas geplaas is.
Niks het verkeerd gelyk nie, en dit het op die oog af gelyk asof alle regulatoriese aspekte nagekom is.
Volgens die munisipaliteit is die krematorium gemagtig om slegs agt liggame binne ’n 12-uur-skof te veras.
Die koerant het gevra of daar riglyne is waarvolgens ’n oond in ’n krematorium gebou moet word, waarna die antwoord “nee” was.
’n Amptenaar het verduidelik dat, in die geval van die oond in die Drakenstein-krematorium, die primêre verbrandingskamer (waarin die liggaam veras word) en die sekondêre verbrandingskamer (wat oorblywende materiaal vanuit die primêre kamer verbrand) ewe groot moet wees, wat wel die geval by die Drakenstein-krematorium is.
Rousseau hou vol dat die Drakenstein-krematorium ondersoek en toegemaak moet word, hangende so ondersoek.
“Op die einde van die dag word die begrafnisbedryf blootgestel aan Van der Merwe se ongerymdhede en die onetiese manier waarop hy ’n ding doen,” het Rousseau in vorige kommunikasie gesê.
Volgens Rousseau moet die feit dat Van der Merwe ’n familielid is van ’n senior amptenaar in die KWDM ook in ag geneem word.
Die KWDM het hierdie verhouding in ’n e-pos-boodskap op 9 Oktober bevestig, maar sê dit speel nie ’n rol in die munisipaliteit se ondersoeke by die krematorium nie.
Volgens Stephan Landsberg, ’n VF Plus-raadslid in Wellington, ondersteun die party op nasionale vlak vir Fira in hul aansoek teen die Drakenstein-krematorium by die Menseregtekommissie (MRK).
Landsberg sê ook dat die VF Plus in die Drakenstein-vallei in 2021 bewus gemaak is van die beweerde onwettige aktiwiteite by die Drakenstein-krematorium, waarna ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) by die KWDM en die Drakenstein-munisipaliteit (DM) in Junie 2023 ingedien is. Die KWDM het die dokumentasie verskaf maar nog nie die DM nie.
Volgens ’n verklaring wat die KWDM op 16 Oktober aan die koerant gestuur het, vind gereelde inspeksies by die krematorium plaas.
“Ten opsigte van die Drakenstein-krematorium het die KWDM oor ’n tydperk van 18 maande en deur voortgesette beplande en onbeplande inspeksies, opvolg-evaluasies en betrokkenheid op ’n verskeidenheid platforms die krematorium opdrag gegee om hul voldoening aan die maatreëls te verbeter,” sê Jo-Anne Otto, woordvoerder van die KWDM, in die verklaring.
Hiervolgens gaan die KWDM voort met beplande en onbeplande besoeke “sowel as [om] die resultate [te monitor] wat deur onafhanklike konsultante verskaf is”.