Die Paarl Post het verlede week berig oor die beweerde onwettige praktyke wat by die Drakenstein-krematorium plaasvind sedert 2011 toe dit geprivatiseer word en die huidige eienaar, Johann van der Merwe, die krematorium gekoop het.
Paarl Post het melding gemaak aan verskeie aantygings wat deur twee betroubare bronne gestaaf is, en deur Johan Rousseau, die voorsitter van die Vereniging van Hervormde Begrafnisondernemers (Fira), bevestig is.
Van hiérdie aantygings sluit onder meer in liggaamlike weefsel, beendere en as wat op stortingsterreine binne die Drakenstein-vallei gestort word, honde wat saam met mense veras word, en meer as een liggaam op ’n slag veras word.
Ander beweringe wat gemaak word sluit in dat doodskiste se deksels onwettiglik afgehaal was en óf apart verbrand, óf verkoop was, ook dat liggame valslik afgeteken was deur twee dokters wie se name onwettiglik gebruik was op die krematorium se rekenaarsisteem.
Hiérdie beweerde onwettige praktyke het sedert ten minste 2022 plaasgevind.
Die vraag wat immers onbeantwoord bly, is hoekom het die owerhede, onder andere die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) en die plaaslike departement van omgewingsake, wat die mandaat het om die krematorium aanspreeklik te hou, misluk in hul taak om die dood te beskerm?
LEES OOK: Skokkende aantugings teen Drakenstein-krematorium onthul; meeer as een liggaam saam veras
“Die departement van omgewingsake is verantwoordelik vir wat hier aangaan, en hulle het geen provinsiale wetgewer of regulatoriese owerheid vir die implementering van ongeveer 35 wette in die plaaslike regeringswet nie. Hulle verwys slegs na die gesondheidswet en omgewingsake wette, maar het nie die kennis nie en kan dus die wette nie implementeer nie,” volgens Rousseau.
Hy het verduidelik dat nuwe tegnologie die huidige wetgewing aangaande die begrafnisbedryf oortref het.
As gevolg hiervan, kan krematoriums wat veral in privaatbesit is, soos die van Drakenstein, sekere wette omseil en nie beter dienste aan die industrie en die publiek verskaf nie — ’n mandaat wat hoofsaaklik rus op die privaatsektor omdat staatsbeheerde entiteite onder wanbestuur verkrummel.
“Op die ou einde van die dag word die begrafnisbedryf blootgestel aan Van der Merwe se ongerymdhede en die onetiese manier waarop hy ’n ding doen,” het Rousseau gesê.
Volgens hom moet die feit dat Van der Merwe ’n familielid is van ’n senior amptenaar binne die KWDM, ook in ag geneem word.
Die KWDM het hierdie verhouding in ’n e-pos op 9 Oktober bevestig, maar gesê dat dit nie ’n rol speel in die munisipaliteit se ondersoeke by die krematorium nie.
“Die KWDM bevestig die familieband, maar die amptenaar het uit eie keuse al tydens die eerste klagtes oor die Drakenstein-krematorium, dit duidelik gestel dat daar geen betrokkenheid van hulle kant by die besigheid is nie. Daarom is alle navrae en bestuur daarvan na die munisipale bestuurder verwys. Hierdie voorkomende stap is terwille van skoon regering geneem,” sê Jo-Anne Otto, woordvoerder van die KWDM.
Volgens Stephan Landsberg, ’n VF Plus-raadslid in Wellington, ondersteun die party op nasionale vlak vir Fira in hul aansoek teen die Drakenstein-krematorium by die Menseregtekommissie (MRK).
In ’n aanlynberig op die VF Plus se webtuiste skryf Landsberg dat “mense die reg [het] om op ’n waardige manier behandel te word, selfs na hul afsterwe”.
Landsberg sê verder dat die VF Plus binne die Drakenstein-vallei in 2021 bewus gemaak van die beweerde onwettige aktiwiteite by die Drakenstein-krematorium, waarna ’n PAIA-aansoek by die KWDM asook die Drakenstein-munisipaliteit (DM) beide in Junie 2023 ingedien is.
Volgens hom het die KWDM dokumente wat aandui dat die munisipaliteit ondersoeke afgelê is, verskaf, maar “belangrike inligting wat handel oor die ondersoeke is verdoof”.
Die Paarl Post het hierdie dokumente onder oë gehad.
Volgens Landsberg wag die VF Plus steeds vir die dokumente vanaf die Drakenstein-munisipaliteit wat melding maak van die menslike afval wat op stortingsterreine binne die vallei gestrooi is.
Response
’n Verklaring wat die KWDM oor verlede week se beweringe teen die Drakenstein-krematorium uitgereik het wat, na bewering, menslike oorskot, veral in die vorm van weefsel op stortingsterreine gestrooi het, beloop as volg:
“Die KWDM se munisipale gesondheidsdienste (MHS) se omgewingsgesondheidspraktisyns (EHP’s), het nege funksies, waarvan een die veilige wegdoening is van menslike oorskot. Die EHP’s is verantwoordelik om te verseker dat ’n verskeidenheid aktiwiteite voldoen aan regulasies, nie net by krematoria nie, maar ook in baie ander omgewings,” het Otto in die verklaring gesê.
“Die MHS reik ’n Sertifikaat van Voldoening (CoC) uit in terme van regulasies met betrekking tot die bestuur van menslike oorblyfsels, (R.363 van 22 Mei 2013), deur die Nasionale Gesondheidswet van 2003, wat dus die voortsetting van die werking van ’n lykshuis toelaat.”
“Dit is belangrik om daarop te let dat dit nie die MHS se rol is om ’n besigheid te sluit nie, dit is eerder hul verantwoordelikheid om, deur voortdurende monitering, betrokkenheid en die deurlopende toepassing van reëls en nakoming van vereiste regulasies te verseker sodat ’n diens of besigheid funksioneer op ’n wyse wat konsekwent en veilig is vir almal,” luidens die verklaring.
Dit slegs wanneer diens of besigheid die nodige regulasies ignoreer, dat regstappe gevolg kan word.
“Ten opsigte van die Drakenstein-kematorium het die KWDM oor ’n tydperk van 18 maande en deur voortgesette beplande en onbeplande inspeksies, opvolg evaluasies en betrokkenheid op ’n verskeidenheid platforms die krematorium opdrag gegee om hul voldoening te verbeter.
In reaksie op KWDM se instruksies, het die krematorium verskeie opknappingswerk toegepas, luidens die verklaring.
Die drie bronne wat die koerant geraadpleeg het, het immers beweer dat KWDM se inspeksies nie gereeld gedoen was nie, en dat wanneer opknappingswerk aan die krematorium nodig was, dit nie volgens regulasie gedoen is nie.
’n Voorbeeld sluit in die oond wat in 2023 gebou is toe die KWDM die krematorium gesluit het wat, luidens die bronne, die verkeerde grote is, en ’n groter hoeveelheid rook en ander uitlaatgasse aanmoedig.
“Op hierdie stadium ondergaan die verassing en nuwe toerusting uitgebreide toetsing en monitering as versekering van prestasie en om wetgewende nakoming te evalueer.”
Luidens die verklaring gaan die KWDM voort met beide beplande en onbeplande besoeke,, sowel as die resultate wat deur onafhanklike konsultante verskaf is.”
“Hierdie aksies is ’n aanduiding dat die Drakenstein-krematorium voldoen aan die nodige wettige vereistes,” volgens die verklaring.
Die departement van omgewingsake het nie op Paarl Post se navrae gereageer nie. Die kommentaar sal aanlyn bygevoeg word sodra dit ontvang is.