Die Drakenstein-krematorium in die Paarl het ’n aansoek vir die hernuwing van ’n atmosferiese- emissie-lisensie (AEL) by die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) ingedien, wat in twee koerante (albei op 31 Oktober) geadverteer is as deel van die openbaredeelnameproses.
Hierdie aansoek volg omdat die huidige een, wat slegs die verassing van menslike oorskot goedkeur, op 30 November verval.
In die Drakenstein-krematorium se aansoek aan die KWDM sowel as in die kennisgewing wat in twee koerante (Die Buger en Son) gepubliseer is, vra hulle toestemming vir:
- Termiese behandeling van gevaarlike en algemene afval (kategorie 8);
- verbranding van krematoria en veeartsenykunde-afval (kategorie 8.2); en
- verassing van menslike oorskot en troeteldiere (kategorie 8.2).
Volgens Anesca Roodt, ’n woordvoerder van die KWDM, is die munisipaliteit tans besig om hierdie aansoek te evalueer.
“Die AEL-aansoek word tans geëvalueer en die KWDM kan bykomende inligting versoek.
“Die KWDM-besluit om ’n AEL-aansoek toe te staan ??of te weier, sal die oorweging van insette en reaksies wat tydens die openbaredeelnameproses gemaak is, insluit.”
Volgens Roodt moet die krematorium, en so ook ander ondernemings, hul AEL-aansoeke elke vyf jaar hernu.
“Kragtens Artikel 22 van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur oor luggehalte mag geen individu ’n aktiwiteit wat op die nasionale register gelys is of op ’n spesifieke provinsie van toepassing is, sonder ’n geldige AEL uitvoer nie,” het Roodt gesê.
Sy het verduidelik dat die verbranding van veeartsenykunde-afval (kategorie 8.2) behels om “dieredele of materie soos eiers”, te veras, maar “sluit gevaarlike afval soos skerpstukke uit”.
“Gevaarlike veeartsenykunde-afval word geklassifiseer as ’n gelyste aktiwiteit onder kategorie 8.1” van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur vir luggehalte.
Die publiek sal tot 29 November kommentaar kan lewer. Vrae oor die AEL-aansoek is aan Johann van der Merwe, die eienaar van die Drakenstein-krematorium, gestuur, waarna hy reageer het met “ek verstaan nie wat dit met jou [die koerant] te doen het nie”?
Volgens ’n bron is dit belangrik vir hulle dat die publiek oor die nuwe AEL-aansoek verwittig word indien inwoners besware wil aanteken.
Johan Rousseau, die voorsitter van die Vereniging van Hervormde Begrafnisondernemers (Fira), het gesê die vereniging staan die aansoek vir die nuwe AEL-lisensie teen.
Indien iemand besware wil aanteken, kan dit gestuur word na riyaal@yellowtree.co.za van Yellow Tree Environmental, wat die openbare- deelnameproses namens die Drakenstein-krematorium hanteer.
Die Openbare Beskermer (OB) het sy ondersoek teen die KWDM afgehandel nadat Rousseau (die klaer) die saak by die instelling namens Fira aanhangig gemaak het.
Rousseau het beweer dat die KWDM misluk het in sy taak “om te verseker dat die Drakenstein-krematorium aan die toepaslike wetgewing voldoen en die versoek om inligting-aansoek (Paia-aansoek) onredelik afgewys het”.
Die OB het die munisipaliteit op 11 November onskuldig bevind nadat Rosseau die saak in Februarie vanjaar aanhangig gemaak het.
“Ná oorweging van die aard van die klagte, die inligting verskaf tydens die voorlopige ondersoek en die toepaslike regsvoorskrifte, is die [OB] van mening dat verdere ondersoek na die bewerings nie geregverdig is nie, aangesien geen formele klagte en/of bewys van ’n aansoek vir toegang tot inligting by die munisipaliteit ingedien is nie.”
Intussen duur die ondersoek deur die nasionale departement van omgewingsake (Groen Skerpioene) teen die beweerde onwettige aktiwiteite van die krematorium egter voort.
Dit is op 29 Oktober deur Peter Mbelengwa, ’n woordvoerder van die Groen Skerpioene, bevestig.