Die Drakenstein-krematorium in Wattstraat, Paarl. Foto: Jana Scheepers


Die Drakenstein-krematorium in die Paarl, wat sedert 2011 deur Johann van der Merwe besit word, is sedert Oktober vanjaar in die nuus nadat Paarl Post geskryf het oor die beweerde onwettige aktiwiteite wat by die krematorium plaasvind.

Sedert die onthullings is ’n ondersoek deur die nasionale departement van omgewingsake (Groen Skerpioene) einde Oktober vanjaar begin, terwyl Avbob bevestig het dat hy nie meer lyke na die krematorium stuur nie.

Volgens Malixole Gwatyu, kommunikasie­bestuurder by Avbob, maak dié begrafnisdiens nie meer gebruik van die Drakenstein-krematorium nie.

Johann van der Merwe, sedert 2011 eienaar van die Drakenstein-krematorium. Foto: Argief

“Die bestuur het laat weet dat Avbob nie [meer] van die Drakenstein-krematorium gebruik maak nie,” het Gwatyu gesê.

Dit is onduidelik wanneer hierdie besluit geneem is en of dit voor of ná die aanvang van die bewerings was wat in Oktober gemaak is.

Die hernuwing van die atmosferiese- emissie-lisensie (AEL) wat by die KWDM ingedien is en waarvoor ’n kennisgewing in Die Burger en Son verskyn het, se openbaredeelnameproses is tot 31 Januarie verleng, volgens Jo-Anne Otto, ’n woordvoerder vir die KWDM.

LEES OOK: Skokkende aantuigings teen Drakenstein-krematorium onthul; meer as een liggaam veras

Op 28 November en vandag (Donderdag 12 Desember) se munisipale raadsvergaderings van Drakenstein (DM) was die krematorium op die sakelys met die VF Plus, wat ’n mosie met vrae aan die munisipale raad voorgelê het.

Van hierdie vrae sluit in:

  • Is die DM bewus van die beweerde onwettige aktiwiteite wat sedert Oktober vanjaar ontbloot is?
  • Wanneer laas het die DM die krematorium besoek?
  • Het die munisipaliteit enige onlangse klagtes (ná Oktober) oor die krematorium ontvang?

Volgens die DM is hy bewus van die beweerde onwettige aktiwiteite, waarna hy uitgereik het na die KWDM vir die bevindinge van moontlike ondersoeke wat die KWDM oor die krematorium begin het.

LEES OOK: Drakenstein-krematorium word deur Groen Skerpioene ondersoek

Otto het immers bevestig dat geen ondersoeke tussen die KWDM en die krematorium nog aan die gang is nie.

Die DM het bevestig dat hy vroeër vanjaar ’n klagte oor ’n stank uit die krematorium ontvang het, maar dat die reuk ná die DM se ondersoek aan die Wellington- afvalwaterbehandelingswerke toegeskryf is.

Volgens Stephan Landsberg, ’n VF Plus- raadslid, verwerp die VF Plus in die Drakenstein dié antwoorde omdat dit ’n gebrek aan inligting bevat.

LEES OOK: Drakenstein-krematorium vra vir nuwe AEL-lisensie

Volgens hom het die DM ook inligting van die KWDM aangevra, wat nie met die res van die raad of publiek gedeel mag word nie omdat dit vertroulik is.

“Die spesifieke inligting wat deur die Drakenstein-munisipaliteit aangevra is, is verskaf. Die KWDM se terugvoer het ’n gedetailleerde uiteensetting van die bestuur van die fasiliteit ingesluit.

“Weens die groot hoeveelheid inligting oor die Drakenstein-krematorium kon inligting wat nie verwant was tot die navraag, ingesluit word nie,” het Otto gesê.

“Aangesien die terugvoer aan die Drakenstein-munisipaliteit net op die spesifiek aangevraagde inligting fokus, kan die weergawes daarvan sonder die toepaslike konteks moontlik verkeerd verstaan en geïnterpreteer word. Die KWDM wou hierdie situasie vermy en het dus gevra dat die inligting as vertroulik hanteer word.”

Die VF Plus in Drakenstein asook Johan Rousseau, die voorsitter van die Vereniging van Hervormde Begrafnisondernemers (Fira), het gesê die Drakenstein-munisipaliteit moet ook aanspreeklikheid aanvaar vir die bewerings teen die krematorium omdat die krematorium binne die Drakenstein-munisipale gebied geleë is.

Eda Barnard, die Drakenstein-munisipaliteit se waarnemende uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, verwerp hierdie stelling.

“Die krematorium is in private besit en derhalwe nie die verantwoordelikheid van die Drakenstein-munisipaliteit nie. Die lisensie-owerhede sal in hierdie geval vir kommentaar genader moet word.

“Die Drakenstein-munisipaliteit sal wel sy verantwoordelikhede nakom wat boubeheer en brandveiligheid betref,” het Barnard gesê.

Op dié foto is meer as een liggaam (wat uitgedoof is via Photoshop) in die oond te sien. Die liggame word ook hier met ’n oop deur veras. Foto: Argief

Die VF Plus in Drakenstein is in 2021 bewus gemaak van die beweerde onwettige praktyke by die krematorium en steun sedertdien verskeie rolspelers, onder andere Fira, in hul pogings om die krematorium te sluit.

Van die beweerde onwettige aktiwiteite teen die Drakenstein-krematorium sluit onder meer in liggaamlike weefsel, beendere en as wat op stortingsterreine binne die Drakenstein-vallei gestort word, honde wat saam met mense veras word, en meer as een liggaam wat op ’n keer veras word.

Ander bewerings wat gemaak is, sluit in dat doodskiste se deksels onwettig afgehaal is en óf apart verbrand, óf verkoop is; ook dat liggame valslik afgeteken is deur twee dokters wie se name onwettig op die krematorium se rekenaarstelsel gebruik is.

Hiérdie beweerde onwettige praktyke het sedert ten minste 2022 plaasgevind.

Indien iemand besware wil aanteken teen die hernuwing van die AEL-lisensie, kan dit gestuur word na riyaal@yellowtree.co.za van Yellow Tree Environmental, wat die amptelike openbaredeelnameproses hanteer.

You need to be Logged In to leave a comment.