Die Drakenstein-gemeenskap word teen ’n beweerde swendelaar, wat homself as ’n kontrakteur onder die vaandel van verskeie maatskappye voordoen en glo onlangs verbonde aan G & S Construction was, gewaarsku.
Die vermeende swendelaar, genaamd Gert Strydom, maar ook as Wessel en Piet Strydom bekendstaan, is so ver bronne se kennis strek, sedert Desember 2023 in die Drakenstein, en spesifiek in die Paarl, gewaar, waar hy veral bejaardes teiken.
Ander gebiede waarvan die Paarl Post kennis dra waar Strydom ook na bewering met gesteelde geld spoorloos verdwyn het, sluit in Gauteng, Struisbaai, Stellenbosch asook dele van Kaapstad soos Parow, Monte Vista en Plumstead.
Volgens ’n Paarlse sakeman, wat Strydom in Desember 2023 in diens geneem het en nie sy naam genoem wil hê nie om sy onderneming se reputasie te beskerm, het hy talle klagtes oor Strydom se diens ontvang.
Die twee se paade het uiteindelik in Februarie vanjaar geskei toe die eienaar Strydom afgedank het weens die beweerde swendelaar se onwettige aktiwiteite tydens sy indiensneming by dié Paarlse konstruksie-onderneming.
Volgens die eienaar het hy Strydom as ’n rekenaartegnikus in diens geneem, maar het hom ook in die konstruksie-afdeling van die onderneming gebruik.
Nadat die eienaar kommunikasie van klante oor Strydom se diens ontvang het, is hy afgedank.
Van die beweerde onwettige aktiwiteite sluit in ooreenkomste om sonpanele of omsetters te laat installeer, waarna die klante hul deposito’s, of in sommige gevalle die totale bedrag van die installeringsfooi, verloor het.
Ander gevalle sluit in waar Strydom hom glo as ’n rekenaartegnikus en -programmeerder voorgegee het en daarna met die klante, onder andere ’n bekende fisioterapie-praktyk, se geld skoonveld is.
’n Paarlse inwoner wat tans in Gauteng woon en met wie die Paarl Post gepraat het, het Strydom aangestel om sy swembad te diens, maar is toe R21 000 kwyt nadat Strydom met die geld verdwyn het.
Volgens hom het Strydom ’n deposito gevra, waarna hy voorgestel het dat ’n nuwe swembadpomp ook aangeskaf moet word.
Toe die eienaar die geld oorbetaal, het Strydom egter verdwyn.
Hierdie is slegs sekere van gevalle van vermeende bedrog en diefstal.
Volgens die Paarlse sake-eienaar is daar nog gevalle deur die jare waar Strydom met na bewering honderde duisende rande weg is.
Volgens hom trek Strydom van plek tot plek waar hy inwoners – veral ouer mense – teiken, en wanneer die gemeenskap bewus raak van sy aktiwiteite, beweeg hy bloot na ’n ander dorp of provinsie.
Paarl Post verstaan dat Strydom onlangs na Philadelphia en die Kaapstad-omgewing verhuis het.
Kapt. Nowonga Sukwana, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, het bevestig dat Strydom aangekla is van sake “wat wissel van bedrog tot aanranding”.
“Hy [Strydom] is skuldig bevind aan een saak van bedrog en [die] ander sake is teruggetrek weens onvoldoende bewyse,” volgens Sukwana.
Paarl Post het telefonies asook per WhatsApp na Strydom uitgereik vir kommentaar, maar geen terugvoer ontvang nie.