Die Paarlse Poskantoor, wat veronderstel was om in Augustus 2022 in die ou Telkomgebou op die hoek van Hoofstraat en Bo-Lady-Greystraat te open, staan steeds toe agter slot en grendel, met slegs een beknopte kamer wat oop is vir die publiek om pos af te haal.
Nadat die poskantoor in Junie 2022 by die Rembrandt Mall weens agterstallige huur toegemaak het en die posbusse ook daar verwyder is, het die poskantoor na Paarl-Oos naby die SuperSpar verskuif.
Dit is volgens Louise Brugman, ’n korporatiewe woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo).
LEES OOK: Poskantoor dalk gou weer oop
Pos kon nie by dié kantoor afgehaal word nie, en Drakenstein-inwoners moes sedertdien hul pos in ’n kamertjie in die ou Telkomgebou in die Paarlse middedorp afhaal.
Volgens ’n vorige berig van die Paarl Post sou die nuwe tuiste in Paarl-Oos nie permanent wees nie, en sou die poskantoor op 15 Augustus 2022 in die ou Telkomgebou op die hoek van Hoofstraat en Bo-Lady-Greystraat in die middedorp hervestig.
Hoewel die Sapo beloof het dat dié gebou, wat jare vantevore reeds die Poskantoor gehuisves het, binnekort oop sal wees vir die publiek, is daar steeds geen antwoorde oor wanneer dié belofte sal realiseer nie.
Volgens ’n Paarliet, wat gereeld sy pos by die kamer in dié gebou afhaal, is daar “honderde mense” wie se pos dikwels in opgehoopte bondels op die grond lê – reeds vanaf middel 2023 nadat die Paarl Poskantoor na Paarl-Oos verskuif het. Die kamer is glo toeganklik vanaf Bo-Lady-Grey-straat om 08:00 tot 11:00 op weeksdae.
“As jy ’n posbus het, moet jy by ’n kamer aan die agterkant van die gebou gaan rondkrap vir jou pos, tussen ander mense s’n,” volgens ’n ander Drakenstein-inwoner.
“Jy bereik dit deur by die groot deur waar voertuie inry, in te stap en dan vir die veiligheidswag aan te sê jy kom pos afhaal.”
Volgens die inwoner is die kamer “chaoties”.
Met Paarl Post se besoek aan dié perseel was daar ongesorteerde pos wat in die kamer rondgelê het – sommige in bondels in sakke of op die grond, en ander bo-op kaste.
Die perseel is steeds in Telkom se besit, waar die Sapo dit sal huur.
’n Klein hoeveelheid pos was wel gesorteer en in houthokkies geplaas, gereed om afgehaal te word.
Daar was ook tekens van vandalisme en rommelstrooiery, wat Sapo ontken het, omdat dit, volgens hulle, deur veiligheidswagte wat deur Telkom aangestel is, beman word.
Paarl Post het uitgereik na die Sapo en gevra wanneer die Paarlse Poskantoor van Paarl-Oos na die gebou in die middedorp sal skuif, maar het geen datum ontvang nie.
Volgens Brugman is die poskantoor wel “tans besig met voorbereiding” om van Paarl-Oos na die middedorp te skuif.
Die koerant het die Sapo ook gevra hoekom die pos nie gesorteer word voordat dit aan die publiek beskikbaar gestel word nie, maar die vraag bly onbeantwoord.
Volgens ’n Netwerk24-berig het ‘n totaal van 235 poskantore in verskillende provinsies in Maart gesluit, wat insluit die Wes-Kaap en Noord-Kaap (28), Oos-Kaap (24), Vrystaat en Noord-Wes (104), KwaZulu-Natal (21), Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes (58).
Volgens die berig het die Sapo sedert einde Julie 2023 getoon dat hy:
- 1 023 takke het;. Van die takke is 448 in die platteland en 575 in stede;
- Van hulle was net 113 winsgewend;
- Nog 129 takke was teen einde Julie nie in werking nie vir verskeie redes; en
- Van al die eiendomme waar poskantore bedryf word, is 400 in die staat se besit en die res word gehuur.