‘n Gewyde atmosfeer het die afgelope Maandag (19 Mei) op ‘n spesiale gedenkdiens ná die afsterwe van Vanessa Booysen, die wyksraadslid van Amstelhof in die Paarl, in die Drakenstein- munisipale raadsaal geheers.
Alle politieke partye in die raad het roerende huldeblyke gelewer, met Booysen wat beskryf is as ‘n merkwaardige vrou met ‘n hart van goud.
Booysen is Saterdag (10 Mei) ná ‘n kort siekte op 50-jarige ouderdom oorlede. Sy was langer as 20 jaar by die plaaslike politiek betrokke.
Sy is in 2016 as wykraadslid vir Amstelhof verkies en het sedert 2022 op die DA se kiesafdelingskomitee gedien.

Haar kollegas het Maandag almal gepraat oor haar bereidwilligheid om te dien en haar toewyding om altyd die ekstra myl vir haar gemeenskap te loop.
Sprekers het genoem dat sy gereeld soggens vroeg die huis sou verlaat en laat terugkeer om gemeenskapsverwante sake en probleme aan te pak.
“Die Drakenstein-munisipaliteit bring hulde aan die raadslid Booysen vir die rol wat sy gespeel het om te verseker dat die munisipaliteit sy visie van ‘n stad van uitnemendheid uitleef.
“Mag God haar familie in hierdie tyd van rou vertroos en ons gebede gaan steeds uit na haar kollegas, familie en geliefdes,” het die munisipaliteit na afloop van die diens in ‘n verklaring gesê.
Henrietta Booysen, haar oudste dogter, het verlede week aan Paarl Post gesê haar ma se laaste woorde op haar sterf-bed was dat hulle drie susters mekaar moet liefhê.
“Haar laaste wense was dat ons (haar enigste drie dogters) na mekaar moet omsien.
“My ma was ‘n baie liefdevolle mens – nie net vir haar familie nie, maar vir almal wat oor haar pad gekom het,” het Henrietta gesê.
Booysen laat haar man, drie dogters, twee kleinkinders en twee broers agter.
• Sy word Saterdag (24 Mei) om 09:00 uit haar woning in Piet My Vrou-straat in Amstelhof te ruste gelê.
You must be logged in to post a comment.