Die De Kraal-sportterrein in Jan van Riebeeckweg in die Paarl. Foto: Rasaad Adams

Die Drakenstein-munisipaliteit het vandeesweek aangekondig as alles volgens plan verloop, sal sport weer van so vroeg as Maart 2026 op die verlate De Kraal-sportveld in die Paarl beoefen kan word.

Stephen Korabie, die Drakenstein se burgemeester, en ‘n munisipale afvaardiging, wat die stadsbestuurder, dr. Johan Leibbrandt, insluit, het die afgelope Vrydag (14 November) met rugbylegendes oor De Kraal se herlewing vergader.

“Ons het vandag (die afgelope Vrydag) ‘n paar van ons oud-rugbylegendes bymekaargebring, soos Pompie Williams en Randy Marinus. Ons het al hierdie legendes bymekaargebring met een doel voor oë en dit is om vandag oor De Kraal te praat.

“Die hele Drakenstein praat oor hierdie veld, maar dit staan intussen net doodstil. Ons het eenvoudig gevoel die veld moet weer lewe kry. Rugby moet weer hier gespeel word.

“Vandag het ons ons planne en tydskale uiteengesit. Die eerste spelers gaan in Maart volgende jaar daar begin rugby

oefen,” het hy in ‘n video-onderhoud met die gemeenskapsradiostasie KC 107.7 gesê.

Volgens Korabie beoog die munisipaliteit om teen dan twee velde met pale gereed te hê, asook spreiligte en ‘n parkeergebied.

“Hierdie veld dra diep geskiedenis in die Drakenstein. Daar is mense wat van kleins af daar rugby gespeel het. Ons wil dit laat herleef,” het hy voorts gesê.

Leibbrandt, wat Vrydag se vergadering gereël en gelei het, het erken dat die projek reeds geruime tyd in die pyplyn is, maar deur ‘n reeks vertragings teruggehou is.

“Dit is nou belangrik dat ons die projek die momentum gee wat dit verdien en dat ons die legendes en gemeenskapslede wie se voetspore hierdie velde vul, eer. Ons moet nou die storie van De Kraal vertel,” het hy op die vergadering gesê.

Leibbrandt het beklemtoon dat die munisipaliteit ten volle daartoe verbind is om saam met die sportgemeenskap te werk om die projek te verwesenlik.

Die Drakenstein-munisipaliteit het in 2018 aan Paarl Post gesê die ontwikkelingsplan vir De Kraal sal uit vier fases bestaan, met die boekjaar 2017-’18 wat as die eerste jaar sou geld.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article