Die regering en Eskom weet al tien jaar lank van ’n dreigende ineenstorting van die koopkragstelsel in die land, maar nog net 0,039% van die werk is gedoen om die koopkragmeters in Johannesburg te herkodeer.
Koopkragmeters in Suid-Afrika, en in talle ander lande ook, is in 1993 gekodeer met ’n stel kodes wat nuwe kragbewyse as uniek verifieer op grond van tydstippe.
Elke kode wat ’n verbruiker intik, moet ’n reeks syfers hê wat die tydsduur (in minute) sedert die vorige kode enkripteer.
Effektiewelik is daar ’n perk, wat beteken die bruikbare 20-syfer-kodes wat die kragmeter kan lees, raak op.
Dié ontwerptekortkoming is al ongeveer tien jaar gelede gepubliseer sodat dit reggestel kan word, berig News24.
In Suid-Afrika is munisipaliteite verantwoordelik vir die herkodering van meer as 4 miljoen van die meters. Eskom is verantwoordelik vir nog 6,6 miljoen meters.
Die Suid-Afrikaanse vereniging vir plaaslike regering (Salga) het op sy webwerf ook ’n blad wat uitbeeld hoe munisipaliteite oor die land heen vorder met die projek om hul koopkragmeters aan te pas. Reeds sowat 40% van die koopkragmeters waarvoor hulle verantwoordelik is, is al oor die land heen herkodeer.
Eskom het nog nie met syne begin nie.
Wes-Kaapse munisipaliteite het verreweg die grootste vordering hiermee gemaak. Die Drakenstein-munisipaliteit het reeds 99% van die koopkrag-elektrisiteitsmeters in Drakenstein laat herkodeer.
Slegs 258 van altesame 40 935 elektrisiteitsmeters in Drakenstein is nog nie deur die munisipaliteit se diensverskaffer (ONTEC) herkodeer nie.
Om hierdie 258 verbruikers aan te spoor om hul meters so vinnig as moontlik te laat herkodeer sodat hulle nie enige probleme in November 2024 ervaar nie, het die munisipaliteit besluit om hul meters op 31 Augustus 2023 te blokkeer. Dit beteken hulle sal nie in staat wees om elektrisiteit te koop totdat die nodige oudits deur die elektrisiteitsafdeling uitgevoer is en die sleutelhersiening gedoen is nie.
Die munisipaliteit versoek dié betrokke verbruikers om die elektrisiteitsafdeling te skakel by 021 807 4887 of 021 807 4538 om die sleutelhersiening so gou as moontlik af te handel. Indien ’n verbruiker nie tussen 08:00 en 18:00 op weeksdae beskikbaar is nie, kan nauurse afsprake gereël word deur die voorafgenoemde nommers te skakel.
Voordat verbruikers toegang tot hul woning of sakeonderneming verleen, moet hulle asseblief seker maak dat die ONTEC-veldwerkers die volgende amptelike dokumentasie toon:
. ID-kaart met die veldwerker se naam, ID-nommer en foto; en
. ’n Amptelike munisipale skrywe wat die proses verduidelik en deur die stadsbestuurder onderteken is en ook die Drakenstein-munisipaliteit en ONTEC se kentekens bevat. Dié skrywe moet ook bogenoemde twee munisipale telefoonnommers bevat.