‘n Poging om byna 400 kuikens uit die Drakenstein-gevangenis te steel, is heel waarskynlik van binne beplan. Die voorval het 31 Maart om 23:30 plaasgevind toe sowat agt mans toegang tot die tronkterrein verkry het deur ‘n heining oop te knip.
Dit is volgens kapt. Louise du Plessis, woordvoerder van die Paarl-polisie, en Singabakho Nxumalo, ‘n woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste (DKD).
“Tydens roetine-patrollie van die Drakenstein-gevangenis se landbouterrein het die gevangenis se noodondersteuningspan (EST) ‘n gat in ‘n heining naby die landboueenheid ontdek,” sê Nxumalo.
By nadere ondersoek is agt kratte met sowat 50 kuikens elk gevind, en verdere ondersoek het tot ‘n verdagte besette voertuig gelei.
“Ondervraging van die insittende het gehelp met die aankeer van verdere verdagtes,” sê Nxumalo.
Volgens ‘n betroubare bron is die kuikens uit die tronk se veeteelgebied gesteel en in kratte geplaas.
Varkkos wat in sakke geplaas is, is ook blykbaar gevind, sê die bron.
“Die inbrekers het agter die skietbaan ingekom, dus moes hulle deur die tuine tot by die melkery en daarvandaan in die pad af tot by veeteelt loop en die draad oopknip om toegang tot die [kuikens] te kry,” volgens die bron.
Dit is om dié rede dat hulle glo dit kan moontlik die werk van iemand binne die tronk wees.
“‘n Mens moet weet hoe om daar [by die kuikens] uit te kom,” sê die bron.
Hierdie bewering kon egter nie bevestig word nie.
Nadat die EST en hondemeester die inbrekers vasgetrek het, is die Paarl-polisie ontbied, wat die verdagtes in hegtenis geneem het.
Volgens die bron is die voorval ook nie deur Ntomboxolo Kungune, die huidige hoof van die tronk, betyds by die streekkantoor aangemeld nie.

Hierdie bewering kon egter ook nie bevestig word nie.
Volgens die anonieme bron het sowat 12 kuikens sedert die gepoogde diefstal gevrek.
“Altesaam 388 agt dae oue kuikens is veilig na hul kamp terugbesorg, terwyl 12 sterftes aangemeld is. ‘n Saak van diefstal is by die polisie aanhangig gemaak, terwyl vier verdagtes saam met die geskutte voertuig in polisie-aanhouding oorhandig is,” sê Nxumalo.
Die bron het verduidelik hoewel die kuikens nie gesteel is nie, hulle steeds van kant gemaak word omdat dit “gehanteer is deur mense wat nie die higiëniese aspekte van die hanteer van kuikens gevolg het nie, en die kuikens gekontamineer is”.
“As [die kuikens] teruggeplaas word in hul hokke, kan hulle moontlik siektes versprei.”
Daarom verloor die tronk, en indirek die belastingbetaler, sowat R180 000.
Volgens Du Plessis is Stefan Erasmus (30) van Smartietown in die Paarl op die toneel in hegtenis geneem waarna hy op 1 April in die Paarl-landdroshof verskyn het. Hy is egter deur die hof vrygelaat.
Dit is onduidelik wat met die ander verdagtes gebeur het.
You must be logged in to post a comment.