Gerald Esau, die Drakenstein-munisipaliteit se voormalige uitvoerende direkteur vir gemeenskapsdienste, is verlede Dinsdag (13 Augustus) finaal deur die munisipaliteit afgedank ingevolge ’n tugverhoor waartydens hy vier onderskeie aanklagte in die gesig gestaar het. Drie van die aanklagte hou daarmee verband dat hy glo ’n komplot gesmee het om van die stadsbestuurder ontslae te raak.
Esau het vandeesweek aan Paarl Post gesê daar is geen gronde vir die bewerings nie en dat hy reeds met sy regsverteenwoordiger in gesprek getree het om teen die uitspraak te appelleer.
Paarl Post het vandeesweek die uitkomsdokument van Esau se tugverhoor, wat van 20 en 29 Julie vanjaar plaasgevind het, bekom.
Hy is in die verhoor deur die regsfirma Shrives Incorporated verteenwoordig, terwyl Webber Wentzel Attorneys die munisipaliteit verteenwoordig het.
Paarl Post het in Maart vanjaar berig dat Esau in daardie stadium voorlopig geskors was nadat die munisipaliteit klagtes ontvang het dat hy by ’n sosiale geleentheid vir munisipale amptenare in George glo dronk opgedaag het.
Seraj Johaar, die munisipaliteit se uitvoerende direkteur vir korporatiewe sake en beplanning, het toe gesê Esau se beweerde dronkenskap “het die munisipaliteit se naam in oneer gebring”.
Intussen het drie ander klagtes bygekom, waarin Esau daarvan beskuldig is dat hy in samewerking met ander Drakenstein-werkers van dr. Johan Leibbrandt, die stadsbestuurder, probeer ontslae raak het.
Luidens die verhoordokument het Esau na bewering ’n opposisieraadslid in November 2023 tydens ’n telefoniese gesprek probeer beïnvloed om van Leibbrandt ontslae te raak. Esau het glo gevra dat die raadslid en sy party die provinsiale LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake moet nader om Leibbrandt se termyn weens sy ouderdom nie te verleng nie.
In die ander twee klagtes word Esau daarvan beskuldig dat hy bewerings van boeliegedrag, teistering en seksuele dade wat glo deur die stadsbestuurder gepleeg is, met munisipale werkers bespreek het, en die stadsbestuurder se naam in oneer gebring. In die verhoor het dit uitgekom dat Esau glo sy oog op die stadsbestuurder se pos gehad het.
Esau het onskuldig gepleit op al vier beweerde oortredings.
Hy het ontken dat hy dronk was tydens die munisipale werksessie in George.
“Volgens hom het hy die geleentheid gebruik om te ontspan. Hy het eenvoudig die musiek geniet en hard gesing en gedans. Hy het homself as charismaties beskryf,” lui die verhoordokument.
Esau het verder in die verhoor gesê indien die beweerde gesprekke oor die stadsbestuurder met ander munisipale werkers wel plaasgevind het, sou hy die munisipale gedragskode oortree het – iets waaraan hy homself nie sou skuldig maak nie.
Die tugverhoor het Esau egter skuldig bevind op al die aanklagte.
Ingevolge munisipale wetgewing het hy die reg om teen die bevindinge te appelleer, waarmee hy reeds begin het, het hy vandeesweek by navraag bevestig.