Begrafnisse mag weer voortgaan in Drakenstein dit afgestel moes word as gevolg van vloede in die gebied.


Begrafnisse in Drakenstein kan weer voortgaan nadat dit om veiligheidsredes die afgelope naweek gekanselleer moes word as gevolg van swaar reën wat vloede veroorsaak het in verskeie dele van die gebied.

Gerald Esau, Drakenstein-munisipaliteit se direkteur van gemeenskapsdienste, het aan Paarl Post bevestig dat dit die eerste keer in die geskiedenis is dat die munisipaliteit al sy begraafplase moes sluit as gevolg van ongure weersomstandighede.

“Openbare veiligheid kom eerste, en die besluit om begrafnisse uit te stel, is geneem om te verseker dat teraardebestellings op ’n menswaardige wyse sal kan plaasvind – met inagneming dat verskeie grafte oorstroom is.”

Die munisipaliteit het al sy begraafplase vanaf 15 Junie tot 19 Junie gesluit. ’n Assessering van die begraafplase is op Woensdag (21 Junie) gedoen deur munisipale beamptes om vas te stel of dit veilig genoeg is vir teraardebestellings om weer voort te gaan.

Drakenstein het op Donderdag (22 Junie) laat weet dat daar na afloop van die assessering besluit is dat begrafnisse weer voortgesit mag word.

“Alhoewel die toestande dalk nie heeltemal optimaal is nie, is besluit dat die prosessie van begrafnisse nie verder vertraag kan word nie. Daarom sal alle geskeduleerde begrafnisse vanaf vandag hervat word. Veiligheidsmaatreëls sal geïmplementeer word.”

You need to be Logged In to leave a comment.