’n Groep inwoners verbonde aan die Concerned Drakenstein Residents-beweging het Dinsdag na die munisipale gebou in die Paarl as deel van ’n diensleweringsbetoging opgeruk.Foto: Verskaf


Water, elektrisiteit, vullisverwydering en behuising is van die basiese-dienslewering-griewe waaroor betogende Drakenstein-inwoners Dinsdag tydens ’n vreedsame optog na die munisipale gebou in die Paarl die stem dik gemaak het.

Die groep betogers het hoofsaaklik bestaan uit inwoners verbonde aan die Concerned Drakenstein Residents- beweging (CDR), en het met plakkate betoog wat onder meer die munisipaliteit daarvan beskuldig dat hy jare lange agterplaasbewoners ignoreer.

Bazil Jacobs, die president van die CDR, het aan Paarl Post gesê agterplaasbewoners word vir jare aan hul eie lot oorgelaat.

“Die munisipaliteit voer aan dat hy nie krag, water en ander basiese dienste op private erwe kan aanlê nie, maar intussen sien ons hoe vinnig hierdie soort dienste in informele nedersettings gelewer word.

“Hulle is dan gou om mense se krag te kom ontkoppel wanneer mense self pogings aanwend oom krag aan te lê. Ons mense hoef nie hierdie koppelings te doen indien hulle van basiese dienste voorsien word nie.”

Volgens Jacobs kom ’n saak tans in die Paarl-landdroshof voor nadat die munisipaliteit glo ’n huishouding se koopkragmeter geblok het.

Van die ander kwessies wat in die groep se memorandum omvat word, sluit in wat die CDR die “uitsetting” van inwoners wat op plase woon, noem.

Jacobs sê daar is ’n kommerwekkende toename in boere wat hul plase verkoop, en die plaaswerkers wat op die plase woon, word dan deur die nuwe eienaars deur middel van uitsettingsbevele weggewys.

“Dit gebeur oor die hele Drakenstein heen,” beklemtoon hy.

“Daardie inwoners word eintlik die munisipaliteit se verantwoordelikheid. Hulle moet toesien dat hierdie mense ordentlike behuising ontvang, maar gaan plak dan eerder die mense in Paarl-Oos.”

Volgens Jacobs het hulle geëis dat Conrad Poole, die uitvoerende burgemeester, of dr. Johan Leibbrandt, die stadsbestuurder, die memorandum oor hul griewe ontvang.

Hy sê Lorenzo Arendse, die burgemeesterskomiteelid vir sport, ontspanning, kuns en kultuur, het dit toe uiteindelik ontvang.

Volgens Jacobs het Arendse gesê die munisipaliteit sal binne sewe dae op die griewe reageer.

You need to be Logged In to leave a comment.