Terwyl die omvang van die skade in verskeie dele van die Wes-Kaap ná die afgelope naweek se verwoestende storm nog bepaal word, is Drakenstein een van die gebiede wat die ergste gebuk gegaan het – met tientalle inwoners wat dakloos gelaat is, asook skade aan infrastruktuur en eiendomme en selfs lewensverlies.
Die stormsterk wind en gepaardgaande neerslae kom te midde van die oranje vlak-9 waarskuwing wat verlede week deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens uitgereik is.
Hoewel nie veel reën die naweek oor Drakenstein uitgesak het nie, het stormsterk wind sedert Saterdagaand (6 April) wydverspreide skade veroorsaak en brande aangehits, wat tientalle inwoners dakloos gelaat het.
Dereck Peceur, hoofbrandweerbeampte by die Drakenstein-munisipaliteit se branddienste, sê hulle is Saterdagaand om 21:32 ontbied na ’n veldbrand by die Leeurivier in Wellington, wat gevaar ingehou het vir nabygeleë huise.
“As voorsorgmaatreël het ons inwoners gevra om hul wonings te ontruim. Geen eiendom is in die proses beskadig nie en die brand is om 04:15 in bedwang gebring. Die brandweerdienste het ook Saterdag hulp verleen aan die Stellenbosch-munisipaliteit met die bestryding van ’n brand in Jamestown toe hul brandweerdienste druk besig was met die bestryding van ’n brand in Khayamandi.”
Sondag (7 April) was daar ’n brand by die Mountain Shadows-gasteplaas in die Paarl waaroor die koerant ook berig het.
’n Brand het ook Sondag teen die hange van Paarlberg uitgebreek – in dieselfde gebied waar dit ’n paar weke gelede gebrand het.
Dié brand is ook aangehits deur die sterk wind en het binne etlike oomblikke buite beheer in die rigting van die Eureka-wynlandgoed op die Noorder-Agter-Paarl-pad gebrand.
Die sterk wind het dit bykans onmoontlik gemaak om hulp soos dié van ’n helikopter in te span.
Met dié dat die wind sterk gewaai het, was dit ook gevaarlik om brandbestryders na hooggeleë gebiede te stuur.
In Smartietown in Paarl-Oos is 77 inwoners dakloos gelaat toe ’n strukturele brand in Candicestraat uitgebreek het.
’n Ooggetuie het Sondag aan Paarl Post vertel hoe dié brand binne ’n halfuur al sowat sewe huise en tientalle informele strukture in puin gelê het.
Paarl Post verstaan dat die informele strukture in die agterplaas van hierdie huishoudings opgerig was.
Buiten die reën asook verwoestende brande wat die vallei die afgelope naweek ervaar het, is grootskaalse windskade ook aangemeld.
Talle huise asook ondernemings reg oor die vallei tot so ver as Saron het skade aangemeld wat deur die stormsterk winde aangehits is.
Verskeie bome in die vallei het ontwortel en op mense se huise beland, terwyl ander eeu oue eikebome soos dié in die Paarl Arboretum en in Wellington in die slag gebly het.
By die Dal Josafat-stadion het die krieketklubhuis in die slag gebly met verskeie ander infrastruktuur wat ook die afgelope Saterdag deur die wind beskadig is.
“Verskeie van die munisipaliteit se sportfasiliteite, soos die Parys-, Mbekweni, Pelikaan, en Saron-sportveld asook die Dal Josafat-krieketklubhuis het skade aan hul dakke of heinings opgedoen. Die heining van die Mbekweni- munisipale swembad het ook ineengestort,” lui ’n verklaring deur die Drakenstein-munisipaliteit.
Saron was ook ’n slagoffer van die stormweer met verskeie huise en infrastruktuur wat beskadig is.
Volgens Caroline Kordom, ’n inwoner in Kerkstraat wat die afgelope naweek aansienlike skade aan haar huis opgedoen het, is groot dele van dié dorp beskadig.
“Van my vensters in my huis het gebreek en uitgeval, en ’n gedeelte van die dak aan die agterkant van die huis het ook afgewaai.”
Volgens Kordom kon sy haar dak tydelik herstel voordat die ergste reën die afgelope Sondag uitgesak het, maar haar vensters moet nog vervang word.
Kordom se verhaal is maar een van honderde, het sy gesê.
Volgens haar word ’n ander Saron-inwoner tans in die hospitaal behandel nadat ’n gedeelte van haar huis se baksteenmuur op haar been geval het toe die wind dit uitmekaar geruk het.
Ander voorvalle sluit in motorhuis-deure wat op motors ineengestort het, asook verskeie kragpale wat veral in Kerkstraat lê en wat ’n grootskaalse kragonderbreking in die dorp veroorsaak het. Dit laat inwoners reeds drie dae in die donker sit.
Volgens Kordom behoort die kragtoevoer later die week herstel te wees.
Eskom kon nog nie teen druktyd navrae hieroor beantwoord nie.