Gegewe die uitdaging om die lewensgehalte van pasiënte met lewensbedreigende siektes, asook dié van hul gesinne, te verbeter, is daar eersdaags die kans om draf-draf (of stap-stap) geld vir Drakenstein Palliatiewe Hospies in te samel.
Boonop is talle geldpryse op die spel wanneer die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), die Historium Trust, Drakenstein Palliatiewe Hospies en Paarl Atletiekklub se pretbelaaide Aandwedloop op Woensdag 11 Desember op die beeldskone Paarlberg plaasvind.
Deelnemers en ondersteuners sal soos altyd kan staatmaak op die perfekte piekniek- en kuierplekke by die monument, waar tydelike uitstallings asook ’n avontuurlike speelterrein en buitelugspeletjies wink.
Boonop kan almal hierdie ikoniese monument vir een van Afrika se jongste tale gratis verken en bewonder. Maak ’n heerlike aand daarvan – bring ’n piekniekmandjie (geen glas) of bestel een vooraf by die Suikerkan by 082 216 2510 (WhatsApp). Dié bistro sal ook verversings en pizza te koop aanbied.
Bring ’n kombers en kussings en onthou ook warm klere en ’n flits.
Die 10 km-aandwedloop, wat ingevolge die reëls van Atletiek Suid-Afrika en Boland Atletiek aangebied word, begin om 18:45 en volg ’n opwindende, uitdagende roete op teer- en grond-roetes. Die gesellige 5 km-woordloop, wat om 19:00 begin, is gemik op die hele gesin – selfs stootwaentjies is welkom! Deelnemers skryf in met ’n prettige Afrikaanse woord pleks van ’n nommer.
. Draffooie: Vir 10 km tussen R100 en R180 en vir 5 km R50. Registreer aanlyn via topevents.co.za voor 23:59 op 4 Desember. Let wel dat inskrywings slegs aanlyn aanvaar word en geen inskrywings op die dag self kan plaasvind nie. Gratis toegang vir ondersteuners en deelnemers ouer as 70.
. Kontak Lucky Mokwena by lmokwena1@icloud.com of 084 826 5895 vir navrae oor die 10 km-aandwedloop; kontak Stefanie Rasztabiga by kommunikasie@taalmuseum.co.za 021 872 3441 vir navrae oor die 5 km-woordloop.
Die meeste palliatiewe sorg in Suid-Afrika word deur private instellings aangebied. Drakenstein Palliatiewe Hospies is in 1991 deur ’n klein groep vrywilligers gestig om hierdie gemeenskapsdiens te verrig.
Hulle versorg gemiddeld 250 pasiënte met lewensbedreigende siektes in hul eie huise en bedien die hele Drakenstein-distrik van Saron tot Simondium, insluitend al die dorpe, landelike gebiede en informele nedersettings. Hul sorgspan verseker dat pasiënte en hul gesinne van die beste gehalte palliatiewe sorg voorsien word totdat die pasiënt met waardigheid sterf. Die doel is om pyn en lyding deur middel van vroeë identifikasie en deeglike assessering te bestuur en om ondersteuning op ’n fisieke, psigososiale en geestelike vlak te bied.
. Besoek drakensteinhospice.org.za of skakel 021 872 4060 vir meer inligting.