Maak die tuin nat, snoei die struike en begin solank die partytjiespyskaart beplan – Tuindag 2022 breek Sondag 9 Oktober aan en alle Suid-Afrikaners word genooi om dit te vier en met hul pragtige groen ruimtes te spog.
Jou tuin kan enige grootte of styl wees – of jy nou omring is deur ’n oorvloed monstera deliciosa op ’n nederige vensterbank of ’n boomdigte wildernis besit – almal word genooi om deel te neem.
Een van die vereistes is dat almal ’n blommekroon dra, aangesien dit die amptelike simbool van Tuindag is. Word dus kreatief en maak jou eie kroon. Sodra dit klaar is, kan jy hulde aan jou tuin bring deur familie en vriende vir ’n heerlike feesviering oor te nooi. ’n Skattejag, rustige braai, pronkerige teeparty, skemerkelkies op die balkon of ’n luilekker piekniek . . . kies wat ook al jou hart bly maak. Al wat jy moet doen, is om jou kroon met trots te vertoon en jou vieringe deel deur die hutsmerk #GardenDaySA te gebruik.
Tuindag deel by-vriendelike saadpakkies uit aan vriende wie se foto’s op sosiale media met #GardenDaySA gedeel word of na 066 389 5182, die toegewyde WhatsApp lyn, gestuur word.
Suid-Afrikaners is almal te gewoond aan stygende kospryse, en daarom plaas Tuindag fokus op gemeenskapstuinprojekte en prys hulle vir die werksgeleenthede wat hulle skep en die kos wat hulle teen billike pryse aan plaaslike inwoners verskaf. Hierdie jaar werk hulle saam met ’n verskeidenheid gemeenskapstuine, waar jy kan gaan inloer om jou weeklikse vars groente asook ’n pragtige blommekroon te koop. Jou bestanddele kan dan sommer onmiddellik in jou spesiale, (stedelike) plaas-tot-tafel-Tuindag-middagete geniet word.
Nog ’n manier om ’n saadjie in jou gemeenskap te plant is om aan te sluit by die nuwe Tuindag-vereniging, waar mense met groen vingers en ’n passie vir hul buurt aangemoedig word om die gees van Tuindag te versprei deur ’n groot feesviering in hul omgewing te reël en soveel gaste as wat moontlik is, te nooi.
Lede van die Tuindag-vereniging kry toegang tot eksklusiewe voordele, waaronder ’n gedrukte Tuindag-plakkaat en ’n unieke geskenk vir elke 50 mense wat inteken. Stuur e-pos na info@gardenday.co.za om meer uit te vind oor hoe jy betrokke kan raak.
Idees om jou tuin (feesvieringe) te help groei
Indien jy enige blink idees of groenvinger-inspirasie benodig, besoek die handige webwerf tuindag.co.za waar jy alles sal vind wat nodig is om ’n asemrowende, natuurskone dag te beplan – dit sluit in resep-voorstelle, uitnodigings wat jy kan aflaai, kunstige idees vir aktiwiteite om met die kinders in die tuin te doen, en vele meer om jou kreatiwiteit te laat blom.
Talle plaaslike tuinsentrums, kwekerye, botaniese tuine, plantwinkels, bloemiste, markte, restaurante en kafees het almal beloof om Tuindag 2022 te ondersteun deur spesiale nuwe veldtogte aan te bied, met alles van uitstallings tot opwindende kompetisies. Is jou gunsteling-winkel/kuierplek betrokke? Besoek ons webwerf en vind uit. Indien nie, moedig hulle aan om aan boord te spring.. Kry nog inligting, nuusflitse en inspirasie by @GardenDaySA op alle sosiale media.


