Wellington se mense het verlede naweek soos een man skouer aan die wiel gesit om te verseker dat Bénadé Boltman, die jong Wellingtonse gestremde atleet, wel by die nasionale kampioenskap vir gestremde atlete in Port Elizabeth sal uitkom.
Dit is die derde keer dat Boltman, wat sonder ’n deel van sy linkerarm en sy hand gebore is, genooi word om aan ’n groot kampioenskapsbyeenkoms te gaan deelneem.
Die eerste keer, toe die byeenkoms in Kaapstad plaasgevind het, het hy goud losgeslaan in die naellope wat oor 100 m en 200 m beslis is.
Volgens Bénadé se vader, Bennie, wat ook sy afrigter is, gaan sy seun, wat intussen ook goud as diskusgooier gewen het, vanjaar probeer om ook ’n goue medalje in die verspring by sy prestasies te voeg.
“Bénadé, wat sonder die onderste deel van sy een arm gebore is, het ons almal verstom,” het sy pa die afgelope week gesê.
“Omdat ek self in my jong dae ’n atleet was en omdat ek weet hoe moeilik dit is om kompeterend op ’n atletiekbaan te hardloop, was ek en my vrou oortuig dat ons seun nie oor die vermoëns sal beskik om ’n atleet te word nie. Die skool waarheen ons hom gestuur het, die Paarl Skool vir Gestremdes in Brackenfell, het hom egter kort ná sy aankoms aan ’n atletiekbyeenkoms laat deelneem. Tot ons stomme verbasing het hy loshande die naellope oor 100 en die 200 meter gewen!
“Bénadé is daarna genooi om aan die Westelike Provinsie-kampioenskap vir gestremdes in die Kaap te gaan deelneem. Omdat hy spykerskoene vir die kompetisie moes hê en nog nooit met spykerskoene gehardloop het nie, het ons daarin geslaag om die Woensdag voor die kompetisie vir hom spykerskoene aan te skaf. Hy moes egter nog leer om met spykerskoene op ’n baan met ’n rubber-oppervlak te hardloop. Die Donderdag voor die byeenkoms in die Kaap het ek vir Bénadé onder hande geneem en deeglik afgerig. Twee dae later het hy in die Kaap goud in die wedlope oor 100 meter en oor 200 meter losgeslaan!”
Hierdie puik prestasie het gemaak dat hy ’n rukkie later genooi is om aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap vir gestremdes in Johannesburg te gaan deelneem. Sy ouers het saamgegaan as sy persoonlike afrigters.
In Johannesburg het hy nie net goud in die 100 m- en 200 m-naellope losgeslaan nie, hy is ook aangewys as die SA kampioen in dié twee items.
Verlede jaar op die Suid-Afrikaanse kampioenskappe vir atlete met gestremdhede in Bloemfontein het hy weer sy Johannesburgse prestasies herhaal. Vanjaar is hy genooi om aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap in Port Elizabeth te gaan deelneem. Hy wil daar ook probeer om goud in verspring te wen.
Om genoeg geld bymekaar te skraap om in Port Elizabeth deel te neem was vir sy ouers ’n bron van groot kommer. Gestremde atlete moet uit hul eie sak R3 000 betaal om te kan deelneem. Sy ouers het die afgelope paar weke gespartel om die nodige geld bymekaar te skraap en om ook te verseker dat sy vader as sy afrigter sal kan saamgaan. Bénadé se R3 000 moes voor of op Woensdag 15 Maart inbetaal word.
WOW-Wellington, ’n bekende FB-blad van Wellington, het enkele dae voor 15 Maart van die Boltman-gesin se probleem te hore gekom. Wellingtonners is genooi om bydraes te stuur om Bénadé te help om aan die kampioenskap te gaan deelneem. Binne enkele dae het die bydraes op R6 000 gestaan – genoeg om Bénadé en sy pa as sy afrigter na Port Elizabeth te laat reis! Almal is oortuig dat Bénadé vanjaar weer ’n handvol goue medaljes op die byeenkoms sal losslaan.
Sy tientalle bewonderaars sê hy presteer nie net wonderlik op sportgebied nie. Sy lewe is daarop ingestel om sy medeleerders en die kinders te help om nuwe uitdagings aan te pak. Hy is voordanser in een van Wellington se bekende klopse groepe en het onlangs ’n groepie kinders in sy woonbuurt gehelp om ’n blikkies-orkes op die been te bring.