Sjoe, ek’s nogal geskok oor hoe vuil die Paarl nou lyk.
Ek het byna twee jaar gelede Hermanus toe verhuis en was nou vir die eerste keer in ’n baie lang ruk terug in Paarl.
Hier in my grootwordbuurt van die eens netjiese Courtrai lyk dit skokkend – lang gras, onkruid en vullis. Sies. Bestaan ons munisipaliteit dan nog?
Goeie genade, en die res van die dorp lyk ook taamlik vieslik.
Ook met ’n kuier by vriende in Vrykyk het ek gesien hoe erg lyk die eens pragtige parkies daar en opgelet na al die slaggate in die sypaadjies. Om nie eens te praat van die baie onkruid oral nie.
Hoop iemand doen iets daaraan; dis regtig skandelik.
My een Hermanus-vriendin het ook onlangs hier verbygery en was ook erg geskok. Sy het twee Amerikaners die Paarl kom wys en my gevra hoekom lyk dit so vuil hier.
Daai burgemeester-vrou van Hermanus, dr. Annelie Rabie, kyk nogal mooi na Hermanus. Ons moet haar hierheen nooi om te kom help.
Ek verlang na my ou Paarl, maar soos dit nou hier lyk, is ek bly ek woon nie meer hier nie.