Dorp groet sy koerantman

Koerantman, jeugboekskrywer, ’n ondernemende entrepreneur in die uitgewersbedryf met ’n fyn waarnemingsvermoë en humorsin, toastmaster. karavaanpark­ontwikkelaar, Artes-wenner.


Koerantman, jeugboekskrywer, ’n ondernemende entrepreneur in die uitgewersbedryf met ’n fyn waarnemingsvermoë en humorsin, toastmaster. karavaanpark­ontwikkelaar, Artes-wenner.

Sò kan mens die lewe van Johan Nel (80) opsom, wat tot met sy dood verlede Dinsdag (23 Januarie) korrespondent vir die Paarl Post in Wellington was. Hy was ook ’n gereelde bydraer tot die Post Scriptum-rubriek.

Blaai mens deur ’n plakboek deur sy vrou, Sannie, leer mens dat hy as uitgewer (eers by Makro Boeke en later ook Benedict Uitgewers) gemoeid was by die publikasie van by die 700 boeke, en op sy dag onderburgemeester van Verwoerdburg (deesdae Centurion) was.

As bestuurslid het hy Paarl se Toast­masters en die toerismebeen van die voormalige Sentraal-Transvaal gedien. Hy’t ’n koerant op Betlehem help stig, was in die 1960’s redakteur van die Weermag se Kommando-tydskrif, en het selfs ’n Russiese spioena­sieband of twee vir die regering vertaal.

Nel is 8 Desember 1937 gebore. Hy het op Keimoes langs die Oranjerivier groot­geword, waar sy pa ’n laerskool­onderwyser was en ook korrespondent van Die Burger. As 11-jarige het Nel se eerste artikel ook in dié koerant ver­skyn, en weldra het bydraes tot die Naweekpos, die Volksblad en die Trans­valer gevolg. Tot onlangs nog het hy artikels gelewer vir veral Die Burger se BY-bylae, asook Huisgenoot en Rapport.

Ná skool het Nel ’n BA-graad in Bloemfontein behaal. Later het studies in kommunikasiekunde en televisie­vervaardiging gevolg.

Hy’t vier spoedlees-spanningsverhale vir ’n Bloemfonteinse vriend ­geskryf. Dié was nie blits­verkopers nie, maar in die proses het hy sy vrou Sannie – met wie hy vroeër vandeesmaand 50 jaar getroud was, ontmoet.

Ná jare in Pretoria het Nel die nuwe millennium ingelui deur na Wellington te trek.Gou het hy as verslaggewer ’n gereelde gesig by al wat gemeenskaps­byeenkoms op die dorp geword.

Nel se skrywes, stories en sommer net sy teenwoordigheid om elke hoek en draai gaan deur inwoners gemis word.

• Sy begrafnisdiens is Dinsdag in NG Kerk Wellington-Noord gehou. Naas sy vrou Sannie en dogters Marietjie en Leonora laat hy ook sy skoonseun Francois Smit en kleinkinders Rudi en Renate agter.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.