Door of Life hou babas veilig

’n Wellington-inwoner het ’n inisiatief in die dorp begin om te verhoed dat babas ná geboorte weggegooi word.


’n Wellington-inwoner het ’n inisiatief in die dorp begin om te verhoed dat babas ná geboorte weggegooi word.

Die naam van Marlet Meadon se projek is Door of Life en in samewer­king met The Baby Safe Organisationgaan die twee niewinsgewende organisasies ’n boks beskikbaar stel waarin ma’s wat ’n krisis beleef, hul babas op ’n veilige wyse kan “weggee” om ’n aannemingsproses te aktiveer.

Die proses poog ook om die anonimiteit van die ma te beskerm.

Die boks sal in Wellington by Mellingstraat regoor die taxistaanplek op die Pauw Gedenk Primêre Skool se perseel geplaas word.

“Die baba-safe se deurtjie maak gemaklik na die straat se kant oop en die mamma kan haar baba veilig daarin plaas. Die deurtjie sluit onmiddellik sodra sy dit toemaak, ’n sensor is in die boks wat die baba sal ‘oplet’ en dan my of my man op ons fone in kennis sal stel,” verduidelik Marlet.

“Die boks is met ’n logo gemerk en het ’n bord met duidelike instruksies sal langsaan staan,” vertel sy en sê daar sal ook twee nommers beskikbaar wees vir gratis berading, sou die ma dit wil gebruik.

Sy sê sy of haar man sal binne drie minute daar wees om die baba te ontvang. ’n Ambulans en sekerheids­beamptes sal ook ontbied word om die baba se toestand te ondersoek en daarna word die baba na ’n hospitaal geneem vir behandeling en waarneming.

“NorSA se maatskaplike werker sal dan oorneem en die wetlike proses aan die gang sit en ook tydelik ’n veilige tuiste bied,” sê Marlet.

NorSA is ’n kinderbeskermings­organisasie geregistreer by die depar­tement van maatskaplike ontwikkeling.

Dan sal Procare die langtermyn-aanneming van die baba hanteer.

Procare is ’n emosionelegesondheids­organisasie wat, onder meer, wettige aannemings in Suid-Afrika hanteer.

Marlet erken die projek nog nie vol­stoom aan die gang is nie, maar sê die proses is lank en noukeurig.

“Ons tydsberekening is nog nie 100% nie, maar dit gaan sonder twyfel binne die volgende twee maande operasioneel wees,” het sy gesê.

Sy het besluit om die inisiatief te begin omdat sy glo dit sal ’n verskil kan maak. “Ons lees omtrent elke tweede week in die nuus van ‘baby dumping’ en hiermee wil ons mense bewus maak van die probleem.” Sy sê die belangrikste doel van die boks is lewe vir die baba.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.