WORCESTER – Die HTS Drostdy in dié dorp het ouers meer gerus gemaak om hul kinders skool toe te stuur deur die skool se omvattende plan om die verspreiding van Covid-19 te bekamp, bekend te stel.
Die skool het ’n Covid-komitee saamgestel wat hom daartoe verbind het om navorsing te doen en die nodige kennis te gebruik om ’n doeltreffende plan daar te stel.
Die voorsitter van die Covid-komitee, Annamarie Underhay, het met Standard oor dié plan gesels.
“Ons was bewus dat die skole een of ander tyd gaan oopmaak en ons het dus die komitee saamgestel om te begin beplan. Nog voor die departement sy regulasies aan ons gestuur het, was ons plan reeds beraam en dit het voldoen aan al die voorskrifte wat die departement ook aan ons deurgestuur het. Kennis is mag en ons het seker gemaak dat ons plan op navorsing gegrond is,” sê Underhay.
Die Donkies het Saterdag (23 Mei) op sy Facebook-blad, Beleef HTS Drostdy, ouers ingelig oor die plan wat die personeel en leerders se gesondheid eerste stel.
In die video stipuleer die bestuur van die skool die volgende:
- Elke leerder gaan die eerste dag van skool twee materiaalmaskers en ’n klein bottel ontsmettingsmiddel vir hul persoonlike gebruik ontvang.
- Elke personeellid ontvang ook ’n klein bottel ontsmettingsmiddel en bring ’n bykomende spuitbottel saam skool toe.
- Die bottel met die ontsmettingsmiddel kan gratis deur die loop van die dag hervul word.
- Tafels is reeds in die klaskamers verskuif sodat die maatreëls oor veilige afstand gevolg word en dit is 1,5 m uitmekaar.
- Die temperatuur van elke leerder word daagliks gemeet as hulle by die skool aankom en dit word dan in ’n register opgeteken.
- Almal wat die skool betree, sal deur die saniteringshok moet loop en almal se temperatuur sal gemeet word.
Underhay noem verder selfs die leerders wat in die koshuise woon, sal streng by maatreëls moet hou. Alle artikels wat binnekom, soos kos en ander goedere, sal ook eers ontsmet moet word. Leerders moet deur die saniteringshokke stap as hulle die koshuise binnekom en as hulle na die eetsaal gaan.
“Dit is ons hoofprioriteit om die ouers, personeel en kinders gerus te stel met die maatreëls wat daargestel is, maar tog moet ons onthou dat die risiko, dat enigeen die virus kan opdoen, daar is en ons moet maar net daardie risiko verlaag.”
HTS Drostdy het ook na die plaaslike laerskole, Laerskool Worcester-Oos en Worcester Primêr, uitgereik om saniteringshokke vir hulle te gee.
“Ons gr.12-leerders gaan voor hulle skool te kom ’n vraelys ontvang wat hulle moet invul om seker te maak hulle het geen simptome as hulle terug kom skool toe nie. As daar dalk ’n leerder is wat nie gemaklik is om terug te keer skool toe nie sal ons steeds daardie leerders help en aanlyn klasse aanbied.
“Die personeellede en party ouers het reeds aanlyn genoem dat hulle baie gemaklik is met dié plan. Ons is bly dit word goed ontvang en beplan om dit doeltreffend te implementeer.”
Die departement van basiese onderwys het aangekondig dat alle gr.7- en gr.12-leerders Maandag (1 Junie) moet terugkeer skool toe.