Donkiebos het nou ‘misdaadbos’ geword

Die Donkiebos is ’n pragtige, dig bebosde stuk grond wat binne maklike stapafstand van Wellington se woelige sakekern af lê.


Die Donkiebos is ’n pragtige, dig bebosde stuk grond wat binne maklike stapafstand van Wellington se woelige sakekern af lê.

Volgens Wellington se mense was die Donkiebos lank, lank gelede ’n plek waar Wellingtonners kon gaan ontspan en die ongerepte natuur om hulle geniet. Vandag is dit egter ’n uiters gevaarlike misdaadnes.

“Dis moeilik om te glo dat die Donkiebos in die ou dae ’n gewilde piekniekplek vir die studente op die dorp was. Selfs ds. Andrew Murray het in daardie dae saam met sy gesin in die bos kom ontspan,” sê ’n Wellingtonner wie se woonhuis langs die bos lê. “Deesdae krioel die bos van tikkoppe en prostitute.”

Die Donkiebos se naam verwys na die feit dat die bos naby die koshuis van die sendingstudente van weleer geleë is. Die studente het as donkies bekend gestaan.

Die bos is geleë op ’n stuk grond naby die plek waar die Spruit- en die Kromrivier bymekaar kom. Die grond wat onbebou is omdat dit in die vloedvlakte van die twee riviere lê, behoort aan die Hugenote Kollege.

Volgens Jeanie Wiese, finansiële bestuurder van die Hugenote Kollege, is hulle baie bewus van die toestand wat deesdae in die Donkiebos heers.

“Ons veiligheidspersoneel voer gereeld saam met die polisie klopjagte op die grond uit. Onwettige betreders word saam met alle tydelike strukture wat in die bos opgerig word, verwyder.

“Onnodig om te sê, die plek word baie gou ná so ’n klopjag maar net weer onwettig beset.”

Inwoners van die nabygeleë Keeromstraat is dit almal eens dat die loop van veral Spruitrivier sorg dat onwettige betreders baie maklik onopgemerk van die middedorp na die Donkiebos kan stap. ’n Lae muur wat aan die agterkant van die huise aan die onderpunt van Keeromstraat gebou is om vloedwater uit hul erwe te hou, word benut as skuilplek vir tikkoppe en prostitute wat snags in ’n lang ry agter die muur kom oornag.

Omliggende dorpsbewoners sê toestande in die Donkiebos is vinnig besig om te versleg. Volgens hulle is hierdie al lankal nie meer ’n stryd om honger, sukkelende werkloses op hulle voete te probeer kry nie.

Dit raak deesdae ’n al hewiger stryd teen ’n nimmereindigende stroom van misdadige elemente wat knap langs die middedorp ’n gerieflike oornagplek ontdek het.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.