Teatergangers en aanhangers van digkuns kan uitsien na die debuut van Donker Jonker se nuutste produksie in die Bôrdienghuisteater Saterdag 15 Februarie.
Wat as ek ek was is ’n eenmanvertoning van aktiewe woordkuns, soos Jonker verkies om sy digwerk te noem. In wese is dit performance poetry, maar met ’n volle teateraanslag waar die digter die rol van akteur oortuigend vertolk.
Wat as ek ek was volg in die spore van Kopkamer, ’n stuk wat beskryf is as die hoogtepunt van die 2019-Solo-studios-kunstefees in die Riebeek-Vallei.
Donker Jonker se regisseur, Mark-Graham Wilson, is ’n veteraan in die bedryf wat al tientalle verhoogproduksies gelei het. Hy is al meer as 20 keer benoem vir pryse soos Vita, Fleur du Cap, Naledi, Kanna, Avanti en Safta, waarvan hy verskeie al gewen het. Wat sy televisiewerk betref, was hy onder meer die regisseur van Isidingo en 7de Laan, kunsregisseur van Generations, hoofskrywer van Scandal en storieskrywer vir Binnelanders.
Wilson beskryf sy werksverhouding met Jonker soos volg: “Ná 35 jaar van spelleiding oor talle genres heen is dit vir my opwindend om skryfwerk te ontdek wat soveel moontlikhede bied vir unieke teaterinterpretasie. Donker Jonker se gedigte, treffend op papier, is by uitstek geskik vir uitvoering. Die energie en visserale aard van sy uitlokkende Afrikaans ontbloot ’n subteks van skroeiende insig in die menslike toestand. Net so ongewoon is dit om ’n digter te vind wat sy eie werke kan uitvoer sonder persoonlike toegewing of sentiment. Donker Jonker het ’n fyn aanvoeling vir die verhoog en bring ’n rou eerlikheid na diep persoonlike onderwerpe terwyl hy sy gehoor omarm in gemeenskaplike ervaring.”
Die vertoning begin om 20:00. Kaartjies kos R80. Vir navrae of besprekings, skakel 021 873 2786 of stuur e-pos na teater@breytenbachsentrum.co.za. Kontantkroeg is beskikbaar en pizzas sal te koop wees. Musiek van 18:00. Besoek die Donker Jonker- Facebookblad vir nog inligting.