Uit altesaam 23 679 veediefstalsake wat tussen April 2024 en Februarie vanjaar aangemeld is, was daar slegs 125 suksesvolle vervolgings. Foto: Unsplash

Die slegs 125 suksesvolle vervolgings uit die altesaam 23 679 klagtes oor veediefstal, wat tussen April 2024 en Februarie vanjaar aangemeld is, dui op die beduidende gaping in die regstelsel vir die aanspreeklikheid van oortreders.

Só het Thomas Walters, die DA se provinsiale woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid en polisie-oorsig in die Wes-Kaap, vandeesweek gesê nadat die polisie die jongste syfers oor veediefstal in die land bekendgemaak het.

Die polisie het Woensdag (19 Maart) die parlement se portefeuljekomitee oor polisie en landbou oor die nasionale landelike veiligheidstrategie toegespreek.

Susan Pienaar, die polisie se nasionale hoof vir proaktiewe en sigbare polisiëring, het aan die komitee gesê dat 891 uit 900 polisiekantore in landelike gebiede die veiligheidstrategie sedert die bekendstelling daarvan in 2019 ten volle geïmplementeer het.

“Die strategie het ten doel om die vermoë, kapasiteit en infrastruktuur van alle geïdentifiseerde landelike en landelik-stedelike polisiekantore te verbeter om gemeenskapsbetrokkenheid, opvoeding en kommunikasie met alle belanghebbendes in die gemeenskap te bevorder,” sê Pienaar.

Volgens statistieke wat deur Pienaar voorgelê is, het die implementering van die nasionale landelike veiligheid- strategie gelei tot ‘n sigbare afname in veediefstal, met 32  348 aangemelde gevalle in die 2018-’19-boekjaar en 26 829 in die 2023-’24-boekjaar.

Pienaar sê tussen April 2024 en Februarie 2025 is altesaam 23 679 klagtes aangemeld.

Van hierdie sake dien 41% in die hof, 41% word nog ondersoek, en die oorblywende 18% is as ongegrond beskou.

“Ons kan nie bevestig of die veediefstalsyfer vir die huidige boekjaar hoër of laer as verlede jaar s’n sal wees nie, aangesien die boekjaar nog nie verby is nie.

“Die skuldigbevindings vir veediefstal in die huidige boekjaar beloop tans 125. Altesaam 16% van die sake het op ‘n onskuldigbevinding uitgeloop, en daar is ‘n 84%-skuldigbevindingsyfer,” sê Pienaar.

Walters het in reaksie op die syfers aan Paarl Post gesê verdere ingrype is nodig om die suksesvolle vervolgingsyfer te verhoog.

“Die skuldigbevinding in slegs 125 sake uit duisende dui op ‘n beduidende gaping in die aanspreeklikheid binne die regstelsel oor oortreders.

“Dit dui op doeltreffendheidsprobleme in die ondersoek of vervolgingsproses – of albei.

“Daar behoort beter hulpbronne en opleiding vir wetstoepassers te wees om bewyse doeltreffend in te samel.

“Hofprosesse sal ook vinniger moet geskied en gespesialiseerde aanklaers moet vir veediefstalsake aangewys word.”

Volgens Walters is veediefstal ook ‘n ernstige probleem in die Wes-Kaap, met altesaam 6 965 aangemelde gevalle tussen Oktober en Desember 2024.

“Hierdie wydverspreide probleem raak ‘n groot deel van die landbougemeenskap – veral in landelike gebiede.

“Wetstoepassingsagentskappe en landelike veiligheidsinstellings is aktief besig om die probleem aan te pak, maar dit bly ‘n volgehoue uitdaging wat beide boere se lewensbestaan en streeksveiligheid beïnvloed.”

Walter sê samewerking tussen provinsiale agentskappe en die landelike veiligheidsektor is van kardinale belang.

You need to be Logged In to leave a comment.