‘n Gru-botsing vanoggend (23 Mei) op die Robertsonpad buite Worcester het die lewens van ‘n vrou en drie jong kinders geëis. Die ongeluk het ongeveer 06:40 gebeur nadat die vragmotor, wat vanuit Worcester op pad was, en die minibus mekaar in die kruising by Overhex getref het, het AO Vathiswa Jacobs van die Worcester-polisie bevestig.
Die vragmotor het meters ver van die minibus in ‘n stuk veld tot stillstand gekom, nadat dit deur ‘n grensdraad gery het. Die erg beskadigde minibus, wat ‘n sleepwaentjie met ‘n Oos-Kaapse registrasienommer gehad het, was glo op pad na Hermanus. Die oorledenes was insittendes in die minibus. Verdere inligting oor die beseerdes is nog nie bekend nie.

Ten tyde van die ongeluk was dit nog donker met mistige omstandighede. Omstanders vertel dat die buurtwag baie vinnig op die toneel was om die verkeer te reguleer en om verdere ongelukke te voorkom. Twee vroue het stilgehou en gekyk of hulle die passasiers kon help terwyl daar op die nooddienste gewag is.
Zandré Biko, wat in ‘n huis reg langs die Robertsonpad woon, het gesê dat hy die slag gehoor het en onmiddelik geweet het dit is weer ‘n motorongeluk. “‘n Mens hou asem op elke keer as mens ‘n slag hoor. Ek is al te bang om uit te gaan,” het hy gesê. Die kruising is blykbaar al lank ‘n probleem. Die 56-jarige Christiaan du Toit het op 11 April op dieselfde plek in ‘n motorongeluk gesterf.
“Dit is ‘n lang, reguit stuk pad van Robertson af en die voertuie dink dit is veilig om spoed op te tel. Hulle besef nie daar is ‘n kruising nie. Ek dink spoedbeperkings en ligte by die kruising kan verhoed dat daar so gereeld ongelukke by hierdie kruising is,” het Biko gesê.
* Verdere inligting sal bygevoeg word soos dit bekend raak.