Suster Levina Koorsen (links) en ’n paar lede van haar Dóchas-span. Regs voor is Tanya Meyer. Agter van links is Zaundre Andrews en Melony Daniels. Foto: Chantélle Hartebeest


Goeie en hoëgehalte-verpleegsorg vir diegene wat ná ’n operasie aansterk, palliatiewe sorg nodig het of ’n wond wat professionele wondversorging vereis, is nou binne die bereik van Bolanders.

Die Dóchas- sub-akute kliniek in Ottawastraat in die Paarl is verlede Woensdag (29 Januarie) amptelik bekendgestel. Suster Levina Koorsen, die stigter en kliniese hoof van Dóchas, het Paarl Post op ’n toer deur die kliniek geneem en meer vertel oor die ontstaan en watter dienste Dóchas bied.

Koorsen verduidelik dat Dóchas ’n moedermaatskappy is waaronder drie ander maatskappye val met die onderskeie dienste wat hulle lewer.

Dit sluit in die Dóchas- sub-akute kliniek, Dóchas@Home en WoundDóchas.

“Die sub-akuut is uiteraard die 24-uur-verpleegsorg ná hospitalisasie – die oorbrugging tussen die hospitaal en die huis. Ons is ’n palliatiewe sorgeenheid ook, dus hou ek ook daarvan om te sê ‘tussen hospitaal en hemel’.

“Mense wat sterwend is, gaan dikwels ook hier by ons tuis. Dóchas@Home is ons tuisversorgingsafdeling, waar ons versorgers by wonings plaas om na pasiënte om te sien. WoundDóchas is waar ons die versorging van alle soorte wonde doen.”

Hoe het Dóchas tot stand gekom?

Suster Koorsen het jare lange ondervinding in verpleging en vertel die Dóchas-maatskappy het aanvanklik met wondversorging begin – werk wat sy uit die bagasiebak van haar voertuig gedoen het.

“Ek is opgelei in kritieke sorg, palliatiewe sorg, gevorderde wondsorg en ook as ’n verpleeg-opvoedkundige. Ek het ook vir baie jare in intensiewesorg-eenhede gewerk. Toe my kinders kleiner was, wou ek ’n bietjie meer tyd saam met hulle deurbring, dus het ek toe oorgegaan na verpleegopleiding toe. Ek het kliniese verpleegsters opgelei en in 2016 het ek uit die korporatiewe wêreld gestap om my eie praktyk te begin, net eers as ’n wondsorg-praktisyn vir so ’n paar jaar. Toe begin die Covid-19-pandemie en in 2021 begin die groot behoefte ontstaan vir bekostigbare tuissorg te midde van covid. Ons het toe die Dóchas@Home-tuissorgafdeling begin. Dit het eintlik baie goed aangegaan.

“In 2023 het suster Martie Martins van De Oude Renbaan na my uitgereik. Sy het De Oude Renbaan se sub-akute eenheid vir 28 jaar bestuur en sy was toe 78 jaar oud en moes dink aan aftrede. Sy het my toe gevra om by haar oor te neem. Ons was besig om dit te doen, maar kon ongelukkig nie verder op die perseel in De Oude Renbaan aanbly nie en moes toe ’n ander perseel kry.

“Ons was reeds in Ottawastraat met WoundDóchas en dinge het net so in plek geval, want my buurvrou aan die anderkant van die gebou wou haar gedeelte verkoop. Ons het dié afdeling gekoop om die sub-akute kliniek te huisves, maar moes veranderinge maak om te voldoen aan die departement van gesondheid se vereistes oor hoe die gebou en die sub-akute afdeling moet lyk. Ons het nog meer ruimte nodig gehad en die voorste deel van die gebou ook gekoop. Só is die hele fasiliteit toe op die departement van gesondheid se standaarde gebring om die lisensie te kan behou.”

Die onderskeie dienste in Dóchas

Met die sub-akuut-kliniek, verduidelik suster Koorsen, kan hulle omsien na ’n verskeidenheid pasiënte wat versorging benodig wanneer hulle uit die hospitaal ontslaan word.

“Dit is as jy ’n groot operasie gehad het en jy nog moet herstel, ’n heupvervanging gehad het, ’n septiese wond het, ’n beroerte gehad het en jy moet nog na die tyd rehabiliteer, en vele meer.

“Die voordeel is dat pasiënte se mediese fonds daarvoor betaal. Dit hang ook af van die vereistes van die siekefonds, want terwyl jy nog in die hospitaal is, doen ons aansoek by die fonds vir magtiging.”

Koorsen en haar span skep met die sub-akute kliniek ’n atmosfeer waar mense die vrymoedigheid het om te kan kom aanklop vir hulp. Hoewel die kliniek nie ’n organisasie is of langtermyn-versorging doen nie, fokus hulle eerder op die kort termyn.

Een van die dienste wat die kliniek aanbied, is om ’n sieke na wie die familie voltyds omsien, vir sowat ’n week in te neem sodat die familie ’n blaaskans kan neem.

“As ’n pasiënt by die huis is en die gesin versorg die pasiënt, maar hulle moet vir ’n tyd weggaan, dan bly die oom of tannie hier. Of die familie is ’n bietjie moeg en het ’n blaaskans nodig. Hulle doen alles en wil graag self na die pasiënt omsien, maar dan voel hulle hulle het ’n bietjie van ’n pouse nodig.”

WoundDóchas, verduidelik suster Koorsen, is nie ’n instapkliniek nie, maar werk verkieslik volgens afsprake.

“As jy aan jou siekefonds se vereistes voldoen, kan ons die wondbehandeling se koste van jou fonds eis, of ons het ook ’n spesiale tarief vir private pasiënte.”

Volgens suster Koorsen is hulle bevoorreg om met Dóchas@Home pasiënte ook in die gerief van hul eie woning en in ’n bekende omgewing te kan versorg.

“Ons versorgers word deur ’n geregistreerde verpleegkundige gemonitor. Terugvoer word daagliks gegee. As dit nodig is, gaan die verpleegkundige uit en assesseer die pasiënt. Dit bied gewis baie beter beheer en dissipline oor die sorg.

“Die versorgers is gelukkig en hulle voel hulle het missie en visie. Hul werk bied nie net vir hulle ’n inkomste nie – dit is letterlik ’n lewenspassie. Ek is baie bevoorreg om versorgers te hê wat regtig uit hul pad gaan om pasiënte te help.

“Dis ook ’n feit dat ons meer bekostigbaar is as die meeste ander versorgingsplekke.”

Indien ’n pasiënt wat van ’n rolstoel afhanklik is, van die huis af na die hospitaal vir ’n opvolgafspraak of behandeling vervoer moet word, kan mense ook op Dóchas se knoppie druk.

“Ons het die oulike Caddy wat ons besig is om bekend te stel. Dit is ’n skenking wat ons gekry het van ’n pasiënt wat oorlede is. Dit is ’n omgeboude Volkswagen Caddy wat ’n rolstoel kan akkommodeer. Baie keer kan mense nie by ’n plek uitkom nie, want hulle is in ’n rolstoel en kan nie in en uit ’n kar klim nie.

“Ons het nou al ’n paar pasiënte met die nodige maatreëls vervoer, maar as daar iemand is wat regtig sukkel om ’n pasiënt te vervoer, kan ons dit doen om die pasiënt gou hospitaal toe te neem.

“Dié diens vereis uiteraard ’n klein fooi.”

Missie en Visie

Die woord Dóchas het Ierse wortels en beteken hoop – en, net so deur die dienste wat suster Koorsen en haar span lewer, wil hulle hoop gee aan die mense wat hulle versorg.

“Ons hoop is in Christus en ons probeer daai hoop by mense vestig – dat niks ooit verlore is nie. Ons is nie koud en klinies nie; ons raak familie van ons pasiënte. Dit is ook hoekom ons nie ’n groot uitgebreide fasiliteit wil hê nie.

“Ons wil ’n klein en intieme fasiliteit hê waar mense kan voel dat hulle gehoor word.”

Die fondament waarop Dóchas gelê is en ander wil help, buiten die mediese dienste wat hulle verskaf, is deur hoop en geloof geskep.

Hul missie lui soos volg: “Ons word gedwing deur God se liefde, getuig deur die bediening van Jesus, om ons kennis, vaardighede en ervaring te gebruik om deernisvolle, omvattende en multidissiplinêre sorg aan al ons pasiënte te verskaf.”

Suster Koorsen voeg by: “Ons missie is ook om gehalte-lewe en waardigheid vir ons pasiënte te gee wanneer hulle siek is, sodat hulle steeds voel dat hulle mense is, en dat ’n mens daardie laaste gehalte van lewe gee wat steeds vir hulle lekker is en hulle genot gee en dat dit behoue bly totdat hulle afsterf.

“Die ander ding is ook om daardie gesprekspunt te hê dat hul lewe saakmaak. Mense sal selfs in ons missie sien dat ons wil hê pasiënte moet voluit lewe totdat hulle sterf.

“Ons wil dit so bewerkstellig dat hulle nie net voel ‘ek is nou besig om dood te gaan’ nie, maar dat hulle steeds voel hulle het ’n missie en ’n doel en dat hul lewe saak maak.”

. Kontak Dóchas by 021 300 5242, e-pos admissions@dochassubacuteclinic.co.za of besoek hul webtuiste by www.dochassubacuteclinic.co.za vir meer besonderhede of met navrae. Besoek ook Dóchas by Ottawastraat 15, Paarl vir in- persoon navrae.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article