Johan Davids, ’n inwoner van die Paarl wat sedert 2007 by die Drakenstein-munisipaliteit gewerk het, sê hy word nou deur die munisipaliteit vir ’n “misdadiger” uitgekryt nadat hy van bedrog beskuldig is, terwyl hy by ’n arbitrasie-verhoor in Februarie van die bewerings teen hom vrygespreek is weens onvoldoende bewyse.
Davids moes ingevolge die uitkoms van dié uitspraak op 18 Maart vanjaar weer in sy pos herstel word.
Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsbedingingsraad (SALGBC), wat die arbitrasie-verhoor gelei het, het ook beslis dat Davids vergoed moes word vir die tyd wat hy sonder enige salaris by die huis was.
Die Drakenstein-munisipaliteit betwis egter dié uitspraak en gaan nou die saak na die Arbeidshof verwys.
Davids en twee ander werkers is in Maart 2023 geskors nadat hulle daarvan beskuldig is dat hulle glo geld aangebied is en aanvaar het en wat verband hou met ’n beweerde onwettige spazawinkel in Paarl-Oos.
Die bewerings is tweedelig. Een getuie het beweer dat dié drie geld aangebied is deur een van die spazawinkeleienaar se mededingers om die struktuur, wat glo onwettig op munisipale grond opgerig is, af te breek.
’n Ander getuie het weer beweer dat die betrokke spazawinkeleienaar vir dié drie geld aangebied het om die plan vir die beweerde onwettige struktuur goed te keur.
Luidens die beslissing deur die SALGBC se arbitrasie-verhoor kon die munisipaliteit se regspan geen getuienis lewer wat Davids met die bewerings verbind nie.
“Ek was nooit by die hierdie beweerde transaksie betrokke nie. Dit was nie eens deel van my werksverpligtinge nie. Selfs die eienaar van die spazawinkels kon my tydens die verhoor nie positief identifiseer toe die transaksie plaasgevind het nie.
“Ek sit nou al vir ’n jaar en ’n half by die huis, sonder ’n salaris terwyl ek ’n broodwinner is. Intussen is die munisipaliteit bereid om ’n klomp geld aan sy prokureurs te spandeer. Hulle behandel my nou soos ’n misdadiger. Hier sit ons dan met die bedingingsraad se beslissing,” het Davids vandeesweek aan Paarl Post gesê.
Volgens hom is een van sy medebeskuldigdes terug in haar pos.
“Ons is letterlik van dieselfde bewerings beskuldig. Daar is nie bewyse teen die twee van ons gelewer nie, maar net sy word in haar pos herstel. Ek word onbillik hanteer en nou wil hulle my skorsing verder vertraag deur my na die Arbeidshof toe te sleep.”
Seraj Johaar, die munisipaliteit se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, het aan Paarl Post bevestig dat die munisipaliteit die saak na die Arbeidshof verwys het.
“Die uitspraak van die SALGBC is hersien. Tot dan bly die werknemer geskors. Die verdere verloop en implikasies van hierdie saak sal deur die Arbeidshof bepaal word.”
Paarl Post het onlangs berig oor ’n soortgelyke voorval waar Jacqui Samson-Swartz, ’n voormalige uitvoerende direkteur, ook haar “onbillike” skorsing met die SALGBC geopper het.
Samson-Swartz was, nes Davids, suksesvol in haar arbitrasieproses.
Samson se dienskontrak met die munisipaliteit is op 31 Maart 2023 beëindig ingevolge munisipale regulasies.
Ingevolge die munisipale regulasies oor minimum kwalifikasievlakke, as deel van Samson se dienskontrak, moes sy binne 18 maande aan die minimum voorgeskrewe bevoegdheidsvereistes voldoen.
Samson het haar skorsing teengestaan en die saak na die SALGBC verwys, met die bewering dat sy onregverdig ontslaan is.
Die SALGBC het bevind haar skorsing was sowel substantief as prosedureel onregverdig.
Johaar het wel dié uitspraak verwelkom.
“Die omstandighede rondom die ontslag van Samson was uniek asook ongekend in plaaslike regering. In ’n oor-gereguleerde plaaslikeregeringsomgewing moet die wette wat finansiële en diensvoorwaardes van senior personeel soos Samson beheer teenoor diensregte gestel word.
“Ons is aangeraai dat daar gronde is om die saak op hersiening na die Arbeidshof te neem. Aangesien die vertrek van Samson die munisipaliteit die geleentheid gebied het om die openbare veiligheidsfunksie te verbeter en ander funksies in ’n meer effektiewe en doeltreffende diens te herstruktureer, sal die munisipaliteit egter die uitspraak aanvaar,” het Johaar by vorige navraag gesê.