Die Drakenstein-munisipaliteit het ’n klousule op sy aansoekvorm geregverdig waarin hy vra dat aansoekers moet aandui in watter politieke partye hulle enige ampte beklee.Foto: Rasaad Adams


Terwyl verskeie menseregte-aktiviste by navraag hul kommer gedeel het oor die Drakenstein-munisipaliteit, wat op sy aansoekvorm wil weet of aansoekers vir algemene werk enige posisie in politieke partye beklee, het die munisipaliteit die vereiste van dié inligting vandeesweek geregverdig en gesê dit is nodig om te verseker dat hierdie mense nie hul politieke mag gebruik om die bestuursmodel van die munisipaliteit te beïnvloed nie.

’n Munisipale werker het Paarl Post vandeesweek gekontak en gesê hierdie klousule het glo nooit vantevore op aansoekvorms verskyn nie.

“Dit is dan nou amper asof hulle wil hê dat net ’n sekere party se mense hier mag werk. So, wat dit vir my sê, is as jy vir ’n ander party stem, gaan jy nie hier werk nie.

“In die meantime is ons oorwerk omdat daar so baie poste is wat net nie gevul kan word nie. Ons moet nou ander se werk ook doen omdat die munisipaliteit sloer om mense permanent aan te stel.”

Die werker sê die klousule veroorsaak verwarring.

“Wat presies hul rede is hoekom hulle dit vra, sal hulle alleen kan verduidelik. Maar ek weet van baie mense wat aansoek wil doen om seisoenwerk, maar nou huiwer omdat hulle dan nou moet sê vir wie hulle stem. So, baie van ons mense sit sonder werk, en ek verstaan regtig nie hoekom die party waaraan jy behoort, nou ewe skielik so belangrik is nie,” het die werker gesê.

Dit is ’n reg wat in die Grondwet beskerm word. Elke Suid-Afrikaner het die reg om aan ’n politiek party te behoort en aktief daarby betrokke te wees en dit moet geensins jou kanse vir werk beïnvloed nie.

’n Plaaslike menseregteaktivis wat hom vir maatskaplike geregtigheid beywer, en wat uit vrees vir viktimisering nie geïdentifiseer wil word nie, het by navraag aan Paarl Post gesê die vereiste grens aan die moontlike oortreding van aansoekers se reg om aan ’n party van hul keuse te behoort.

“Dit is ’n reg wat in die Grondwet beskerm word. Elke Suid-Afrikaner het die reg om aan ’n politiek party te behoort en aktief daarby betrokke te wees en dit moet geensins jou kanse vir werk beïnvloed nie.

“Vir hulle om hierdie inligting te vereis, is kommerwekkend, want dit beteken basies wanneer jy by daardie onderhoud instap, is jy waarskynlik al klaar benadeel weens jou politieke affiliasie. Dit is nou te sê as jy wel genooi word vir ’n onderhoud en alle aansoekers van spesifieke partye se aansoekvorms nie eenkant toe geskuif word nie.”

Seraj Johaar, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, het die klousule by navraag geregverdig.

Hy sê dit is in ooreenstemming met artikel 71 (b) wat deur ’n wysiging by die Wet op Plaaslike Regerings- en Munisipale Stelsels ingevoeg is.

Hierdie wet bepaal dat ’n personeellid nie ’n politieke amp in ’n party mag beklee nie, hetsy in ’n permanente, tydelike of waarnemende hoedanigheid.

Dit bepaal verder dat iemand wat as ’n personeellid aangestel is voordat subartikel (1) in werking tree, moet binne een jaar ná die inwerkingtreding van subartikel (1) aan die wet voldoen.

Die wet definieer “politiese amp” as dié van ’n voorsitter, ondervoorsitter, sekretaris, ondersekretaris, tesourier of ’n verkose of aangestelde besluitnemingsposisie van ’n politieke party nasionaal of in enige provinsie, streek of ander gebied waarin die party funksioneer.

“Die doel van die klousule was ’n edele een. Die ongelukkige werklikheid in baie munisipaliteite is dat politieke ampsdraers, soos gedefinieer, soms in junior posisies in munisipaliteite in diens is, terwyl hulle groot politieke invloed oor burgemeesters, voorsitters, ensovoorts het. Soms is hul hoofde in die politieke sfeer, maar baie junior op munisipale vlak.

“Om aan die bogenoemde wet te voldoen, het alle munisipaliteite aansoekers vir hierdie verklaring gevra. Geen proses om nakoming van hierdie bepaling te verseker, sou ouditbevindings aantrek nie,” het Johaar gesê.

Volgens hom is die wet se bepalings deur die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu) betwis, en die hof het beslis dat dit slegs op die munisipale bestuurder en senior bestuurders wat aan die munisipale bestuurder rapporteer, van toepassing moet wees.

“Dit wil sê die bepaling kon nie politieke ampsdraers verhoed om by plaaslike regering op vlakke onder die bogenoemde senior posisies in diens geneem te word nie.

“Daar is dus niks onheilspellends daaraan om die vraag op die aansoekvorm te hê nie.”

Hy het bygevoeg dit is belangrik om daarop te let dat die vraag nie versoek of die aansoeker ’n lid van ’n politieke party is nie; net of hy ’n ampsdraer is.

You need to be Logged In to leave a comment.