Die VF Plus het skerp kritiek uitgespreek op die besluit van die Drakenstein-munisipaliteit (DM)om ‘n mosie van die party te verwerp. Dit was op die onlangse raadsvergadering, waarin versoek is dat die munisipaliteit met die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) en die Wes-Kaapse provinsiale regering in gesprek tree oor vragmotors se voortdurende misbruik van die Bainskloofpas.

Stephen Korabie, die DM se burgemeester, het op die raadsvergadering op 30 September aangevoer dat die mosie onakkuraat is en dat die Bainskloofpas nie onder die DM se jurisdiksie val nie aangesien dit ‘n provinsiale pad is.

Die mosie het ‘n debat tussen die VF  Plus en die DA ontlok, waarby die ANC homself ook betrek het.

Die DA en ANC het albei vir ‘n reses van 10 minute gevra om die kwessie privaat te bespreek.

Uiteindelik het die speaker van die raad, Koos le Roux, die raad laat stem of die DM die mosie moet aanhoor, waarvan drie (VF Plus-lede) ten gunste gestem het, met 31 stemme teen die mosie terwyl 16 raadslede glad nie gestem het nie.

Korabie het aan die VF Plus gesê dat hy nie die party se “toon” in hul mosie wat geopper is, goedkeur nie, waarin hulle volgens die raadsvergadering se sakelys gesê het dat hul optrede van die DM wat betref Bainskloofpas “demand(sic), waarna die burgemeester hierdie woord as neerhalend beskryf het.

Landsberg het in ‘n persverklaring gesê hy meen egter dat hierdie reaksie “kortsigtig en onversoenbaar is met die verantwoordelikheid om ‘n nasionale erfenisroete te beskerm”.

“Al val die pas tegnies buite munisipale jurisdiksie, verhoed niks die munisipaliteit om met die provinsiale regering in gesprek te tree om dié nasionale erfenisroete, wat deel van die Verenigde Nasies se Onderwys-, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie] (Unesco) se Kaapse Wingerdroete is, te beskerm nie,” het hy gesê.

Volgens hom gebruik vragmotors die Bainskloofpas gereeld as ‘n ompad tussen Wellington en Ceres, ondanks ‘n verbod.

“By die Preekstoel, waar skerp draaie en ‘n oorhangende rotsformasie ‘n gevaarlike hindernis vorm, sit vragmotors dikwels vas sonder enige omdraai-opsie,” sê Landsberg.

“Tussen 2023 en 2025 is reeds 57 voorvalle aangemeld wat padskade, erosie en ure lange verkeersopeenhopings veroorsaak het.”

Volgens Landsberg het die VF Plus in sy mosie versoek dat daadwerklike samewerking tussen provinsiale en munisipale owerhede gekoördineer word om vragmotors die Bainskloofpas te belet.

‘n Navraag aan Jandré Bakker, die direkteur van operasionele ondersteuning by die Departement van Infrastruktuur (DOI), oor wat die departement beplan om vragmotorverkeer op dié pas stop te sit, bly onbeantwoord. Bakker het slegs verwys na die padtekens, wat volgens hom aan die vereistes voldoen soos uiteengesit in die South African Road Traffic Sign Manual (SARTSM).

Op die vraag oor wie verantwoordelik is vir die opgradering en toesig van die pas, verduidelik Bakker dat dit ‘n provinsiale pad is, met die Wes-Kaapse DOI wat dus die padowerheid vir instandhouding is, maar die DOI het die KWDM afgevaardig om hierdie funksie namens hulle te verrig.

“Instandhouding word tans deur die KWDM gedoen ingevolge ‘n agentskapsooreenkoms wat nog van krag is.

Hierdie ooreenkoms dek slegs roetine- en kleiner instandhoudingswerk en nie groot kapitaalprojekte nie. Enige grootskaalse projekte sal deur ‘n tenderproses hanteer word, maar daar is tans geen planne vir sodanige werke nie.”

Volgens Henry Maart, die KWDM se direkteur van paaie, onderhou die distriksmunisipaliteit die padtekens om vragmotors oor die hoogtebeperkings te waarsku.

“Die KWDM hou ook [die DOI] op hoogte van enige voorvalle rakende swaar voertuie wat oortree indien ons daarvan weet.”

Volgens Maart is die kwessie met die vragmotors wat die padreëls in Bainskloofpas verontagsaam, op verskeie vlakke onder die aandag van die DOI gebring.

Die DOI het in sy kommentaar gesê polisiëring van die pas is die KWDM se mandaat, terwyl die KWDM gesê het die mandaat is dié van die Departement van Mobiliteit.


Hierdie berig is aangepas sedert dit die eerste keer aanlyn verskyn het.

You need to be Logged In to leave a comment.