“Uiters swak diens”, “foutiewe ongeluksverslae” en “weerhouding van openbare dokumente” vorm deel van ’n string klagtes wat teen die Drakenstein-munisipaliteit (DM) se verkeersdepartement aangemeld is.
Lodewikus Hanekom van die Paarl maak beswaar oor die hantering van ’n ongelukstoneel waar sy dogter in haar motor by die Hoofstraat T-aansluiting met Bergrivier-boulevard op 23 Junie gestamp is.
“My dogter se motor is hier van agter af gestamp deur onverskillige bestuurder wat eers 160 m anderkant die ongeluk tot stilstand gekom het.
“Die DM se verkeerspersoneel het die ongeluk hanteer,” vertel Hanekom.
Die skade wat aan sy dogter se motor berokken is, het sowat R30 000 beloop.
Hy beweer dat “verskeie foute” deur die betrokke verkeersbeampte op die ongeluksverslag gemaak is, waarop onder meer die datum glo verkeerd aangedui is.
“My versoek aan die munisipale verkeershoof, Japie Cornelissen, het uitgeloop daarop dat hy eenvoudig geweier het om enige regstellings aan die ongeluksverslag te maak.
“Dus is die ‘onwaarhede’ die enigste weergawe van die ongeluk.”
Hanekom voer aan dat Cornelissen “bloot geweier het om enige aksie te neem en het my verwys na die hof waar ek my saak moet gaan stel.
“Dus geniet padgebruikers in die Paarl nie die regte wat aan hulle toegeken word deur die wet en die verpligting van wetstoepassers om die wet toe te pas en oortreders voor stok te kry nie!”
DM se uitvoerende direkteur van gemeenskapdienste, Gerald Esau, se terugvoering in die verband lui soos volg: “Die fout waarna mnr. Hanekom verwys, is waar die datum op die voorblad van die ongeluksverslag verkeerdelik aangeteken is, maar korrek op die ongelukstelsel geregistreer is.”
Esau meen dat ’n beampte die verslag na aanleiding van wat die bestuurders van die voertuie aan die beampte deurgee, voltooi.
“Mnr. Hanekom, wat daarna op die toneel aangekom en self aan die munisipaliteit erken het dat hy nie opgelei is in ongeluksherkonstruksie nie, beweer dat die beamptes die inligting soos deur die bestuurders deurgegee nie korrek ingevul het nie.”
Hy sê albei beamptes het egter bevestig dat die inligting soos voorsien korrek aangeteken is.
“Enige verdere ongelukkigheid kan deur middel van ’n hofsaak uitgeklaar word,” meen Esau.
Die twee verkeersbeamptes wat op die toneel was, kan ook gedagvaar word om te getuig.
Hanekom is egter intussen deur die provinsiale verkeersdepartement na die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC) verwys, ’n nasionale organisasie wat alle verkeersreëlings, wetgewing en pad- ordonnansies reguleer.
Earl Naidoo van die RTMC het ’n amptelike verslag oor die ongelukstoneel en verwante klagtes van Hanekom oor die munisipale verkeersdepartement vrygestel. In sy verslag wys Naidoo daarop dat die ongeluksverslag deur die betrokke verkeersbeampte verkeerd gedateer, en dat die tekeninge wat die ongelukstoneel op papier weergee, onvolledig was.
Ten slotte het Naidoo vir die DM-verkeersdepartement in sy verslag aanbeveel dat die munisipaliteit se verkeersbeamptes vir opknappingskursusse rakende die voltooiing van ongeluksverslae moet gaan.
Esau het nie Paarl Post se vrae in verband met die sogenaamde opknappingskursusse beantwoord nie. . The traffic department of the Drakenstein Municipality is being accused of incompetency when it comes to dealing with accident scenes.




