Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) in die Drakenstein-munisipaliteit eis antwoorde van die munisipaliteit vir wat hy bestempel as ’n “foutiewe waardasie” nadat ’n private waardeerder ongerymdhede in 2020 se munisipale eiendomswaardering oopgevlek het met talle eiendomme in die landelike gebiede wat glo onderwaardeer is en die munisipaliteit miljoene rande se belasting laat verloor.
Die munisipale raad het in 2021 ’n onafhanklike beoordelaar deur die Speaker se kantoor aangewys om die aanvanklike eiendomswaardasie van 2020 na te gaan.
Volgens die VF Plus het Erik Marais, ’n private waardeerder van Wellington, dit aan die lig gebring dat ’n aantal landelike eiendomme in veral die Suider-Paarl-omgewing onderwaardeer is teenoor hul eintlike markwaarde.
André Fourie, ’n VF Plus-raadslid in die munisipaliteit, het op 27 Oktober se raadsvergadering ses eiendomme uit Marais se verslag as voorbeeld gebruik, wat volgens Marais onderwaardeer is en daartoe gelei het dat die munisipaliteit inkomste van bykans R3 miljoen tussen Julie 2021 en Junie 2023 verloor het.
Volgens Fourie dui die Speaker se aanstelling van ’n onafhanklike beoordelaar daarop dat die munisipaliteit wel erken foute is moontlik begaan.
Die VF Plus het die verslag van die onafhanklike beoordelaar op die raadsvergadering geëis en wou weet wie aanspreeklik gehou sal word indien eiendomme wel in 2020 onderwaardeer is.
Paarl Post het vroeër vanjaar berig die munisipale bestuur het na bewering aan Marais erken sekere landelike eiendomme in die Suider-Paarl-omgewing se waardasies toon ernstige gebreke.
Dit is in 2020 konserwatief met slegs 9% gemiddeld verhoog teenoor residensiële waardasies wat met 20% verhoog is.
Fourie het by navraag aan Paarl Post gesê die munisipaliteit sloer onnodig met die bekendmaking van die onafhanklike beoordelaar se verslag.
“Die verslag moet eers met die aanvanklike waardeerder gedeel word en gaan dan weer terug na die onafhanklike beoordelaar. Die verslag hang nou basies net in die lug en gaan van een party na die volgende.
“Intussen verloor die munisipaliteit geld op eiendom wat onderwaardeer is, en eiendomme wat waardeer is vir meer as wat dit werd is, moet nou daarvoor opmaak. Ons is nou al moedeloos – ons wag al sedert 2021 vir daardie verslag.
“Die volgende waardasie word in 2025 gedoen en ons verstaan dat die tenderprosesse daarvoor reeds begin het,” sê Fourie.
Gert Combrink, die munisipaliteit se adjunkburgemeester, het by navraag aan Paarl Post bevestig die eerste “voorlopige verslag” van die onafhanklike beoordelaar is deur die raad ontvang.
“Die verslag is aan die munisipaliteit se aanvanklike waardeerder van 2020 oorhandig om daarop te reageer. Sy kommentaar is ontvang en dit is na die beoordelaar teruggestuur. Sodra al die nodige kommentare ontvang en evalueer is, sal die munisipaliteit in ’n beter posisie wees om terugvoering te gee.
“Vir nou word die proses intern deur ons administratiewe kanale behartig. Ons kan intussen nie op onbevestigde bewerings reageer nie.”
Combrink het bevestig die tenderprosesse vir die volgende waardasie vir 2025 het al begin.