Die Drakenstein-munisipaliteit het weer eens inwoners gefaal. As eienaar van ’n sakeonderneming van die Paarl is ek diep teleurgestel dat die munisipaliteit dit weer eens toegelaat het dat ’n maatskappy van elders in die Kaap ons Rugby-wêreldbeker-vierings kom kaap het.
Dit in die vorm van ’n reuse- markiestent (fan park) wat in die Paarl toegelaat is.
Ons as kleiner ondernermings het hieroor glad nie WB-sukses gehad van vroeër jare nie. Die munisipaliteit het een keer vantevore ook hierdie truuk met interskole gebruik en ons het erg daaronder gely. Gelukkig was daar hierna ’n taamlike openbare geraas hieroor en die DM het dit nie weer gedoen nie.
Maar ek vra met trane in my oë, waarom boikot die munisipaliteit sy eie mense en baan eerder die weg vir maatskappye van buite die dorp om hier te kom skep – is daar geen lojaliteit teenoor hul belastingbetalers nie? Soos ons almal weet, is dit moeilike ekonomiese tye en ons het almal elke sent nodig wat na ons toe kom. Dit is skokkend dat ons eie owerhede ons ontneem het van ’n bietjie ekonomiese verligting.
Ook, met al die skelmstreke wat tans aangaan by die munisipaliteit, het ek nou gewonder of die een of ander amptenaar nie ook ’n gesonde bedrag geld agter die rug ontvang vir die fan park om die groenlig te kry nie!

