Die Drakenstein-munisipaliteit sê die oorsaak van ’n onaangename reuk wat Vrydag in Wellington se lug gehang het is weens smeulende gras naby dié dorp se afvalwatersuiweringsaanleg ná ’n veldbrand.
Die munisipaliteit sê in ’n verklaring dat brandweerdienste teen Vrydagmiddag nog op die toneel was nadat ’n veldbrand hier vroeër hierdie week uitgebreek het.
“Die brand het versprei na die ryp-wordingsdamme by die aanleg. Omdat die spesifieke terrein nie deur ons brandweerwaens bereik kan word nie, is water- en afvalwaterdienste gemobiliseer om die brand ten volle en behoorlik te blus.
“Die munisipaliteit kan gemeenskappe verseker dat die reuk geen gesondheidsrisiko vir inwoners inhou nie,” lui die verklaring.
Die munisipaliteit sê branddienste hou die situasie noukeuring dop.


