Die Drakenstein- munisipale gebou langs die Bergrivier-boulevard in die Paarl.Foto: Argief


Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regering (Salga) is die liggaam wat munisipaliteite se salarisvlakke bepaal, waaronder dié van die Drakenstein-munisipaliteit (DM).

Hierdie liggaam verteenwoordig die onderskeie munisipaliteite terwyl die munisipale vakbonde Samwu en Imatu lone onderhandel tussen mekaar nadat Salga die salarisse vasgestel het.

Dit is volgens ’n artikel in Rapport, wat op 11 Augustus aanlyn verskyn het.

Dit is ook die proses wat die Drakenstein-munisipaliteit sal volg om die salaris van sy munisipale werkers op alle salarisvlakke te bepaal.

Nietemin is dit alom bekend dat dit weens die finansiële penarie waarin sekere munisipaliteite hulself weens skuldagterstand bevind, moeilik is om by dié salarisse en hul jaarlikse verhogings te hou.

“Onderhandelings oor verhogings vir 2024-’25, wat in Julie begin het, hervat [in Augustus] nadat die vorige loonooreenkoms einde Junie reeds verstryk het,” volgens Rapport.

Nietemin het Samwu en Imatu hul neuse opgetrek vir die 3,5%-verhoging wat Salga aangebied het, waarna die vakbonde aandring op verhogings van 8%, wat aansienlik hoër is as die inflasiekoers van net bo 5%.

“Salga voer aan dat die nasionale tesourie bevind het 223 (86%) munisipaliteite is finansieel in die knyp, met 66 van hulle in erge finansiële nood.

“Salga dring daarop aan dat al 223 vrygestel word van die verhoging.”

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep, is van mening dat munisipale salarisse veel hoër is as hul eweknieë in die private sektor, wat die belastingbetaler te veel kos. Dit geld ook as dit by die Drakenstein-munisipaliteit se salarisse kom.

Drakenstein-inwoners dok die volgende op vir salarisse van hul munisipale werkers:

  • Die burgemeester van die DM se basiese salaris is R1 119 386 per jaar. Die voordele sluit in ’n selfoon- en data-toelae van R3 917 per maand, terwyl die onderburgemeester R895 508 kry met dieselfde voordele. 
  • Die stadsbestuurder se basiese salaris beloop R2 146 294 per jaar met ’n selfoon- en data-toelaag van R2 537 per maand.
  • Die hoofsweep kry R839 539 per jaar en ’n R3 917 selfoon- en data-toelaag per maand.
  • Die DM se speaker kry R895 508 per jaar. Die voordele sluit in ’n selfoon- en data-toelae van R3 917 per maand.
  • Burgemeesterskomiteelede kry elk R839 539 met ’n selfoon- en data-toelaag van R3 917 per maand terwyl raadslede R354 244 kry met dieselfde voordeel of toelaag.

Volgens Seraj Johaar, die DM se uitvoerende direkteur van korporatiewe en beplanningsdienste, begin die salarisskaal van werkers by T3 (ongeskoolde arbeiders) waar almal dieselfde voordele geniet.

“Werkers op die T3-skaal kry tussen R127 467 en R149 729 per jaar. Hul voordele sluit in ’n dertiende tjek, bydraes tot hul pensioenfonds en werkloosheidsversekeringsfonds, asook groeplewensdekking.

“Opsionele voordele sluit in ’n bydrae tot ’n siekefonds asook ’n behuisingstoelae,” volgens Johaar.

Op die T5-skaal kry munisipale werkers tussen R142 805 en R182 345 terwyl werkers op die T6-skaal uitsien na tussen R168 586 en R218 837 voor aftrekkings.

Hierdie werkers is hoofsaaklik administratiewe klerke.

Op die T7-skaal kry werkers ’n salaris van tussen R203 809 en R264 550 per jaar, terwyl T8 tussen R229 459 en R297 858 en T9 tussen R258 334 en R335 336 per jaar aanbied.

Hierdie werkers is ook hoofsaaklik administratiewe klerke.

Verkeersbeamptes en sekretaresses op die T10-skaal kry tussen R290 856 en R377 562 per jaar met dieselfde voordele as T3, 4, 5, 6, 7, 8 en T9, terwyl sekretaresses op die T11-skaal kan uitsien na tussen R343 388 en R445 725 voor aftrekkings.

“Senior ouditeurs op die T13-skaal kry tussen R456 426 en R592 490 per jaar,” volgens Johaar.

Volgens David Frost, voorsitter van die Paarl se Belastingbetalersvereniging, moet daar ’n stelsel wees om te verseker dat die tariewe wat Drakenstein-belastingbetalers moet betaal, en die dienslewering wat hulle kry, op dieselfde skaal is.

You need to be Logged In to leave a comment.