Een ding waarvoor beurtkrag wel goed is, is om die volmaan en naghemel op ’n heerlike lenteaand op die beeldskone Paarlberg te bewonder.

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) nooi almal uit om die eerste volmaan­piek­niek van die seisoen op Saterdag 8 Oktober by te woon.

Ter ondersteuning van die sentrum vir Astronomiese Erfenis se projek om inheemse name vir volmane in Suider-Afrika te bevorder, word hierdie piekniek aan die Walvismaan gewy – dit verwys na die feit dat hierdie eens erg bedreigde spesie dié tyd van die jaar aan die Suid-Afrikaanse kus kom kalf. Heelwat inheemse name, soos byvoorbeeld Walvisbaai en Umngenga, verwys na die voorkoms van die walvisse.

Gaste kan enige tyd tussen 17:00 en 22:00 kom piekniek hou en die monument, ’n simboolbelaaide beeldhouwerk sonder weerga, besigtig. ’n Gratis begeleide toer om dit alles te verduidelik vind om 18:30 plaas. Besoekers kan ook die omgewing en tydelike uitstallings verken.

Daar is ook buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders. Genoeg veilige parkering is gratis beskikbaar.

Gaste is welkom om hul eie piekniek en drankies (geen glas) te bring of vooraf ’n piekniekmandjie by die ATM se Koffiehuis via 082 216 2510 of info@atmkoffiehuis.co.za te bestel. Die koffiewinkel sal ook verversings verkoop. Onthou warm klere en ’n flits.

Die piekniekreeks word aangebied ten bate van “Laat ons Lees!”, die Taalmonument se geletterdheidsprojek vir kinders. Derhalwe word piekniekgangers gevra om nuwe of tweedehandse kinderboeke ter ondersteuning te skenk.

Toegang kos R40 per volwassene, R10 vir Suid-Afrikaanse studente, pensioenarisse en kinders, en is gratis vir kinders onder ses jaar asook jaarpermithouers. Kaartjies is beskikbaar by Computicket of die hek, en geen besprekings is nodig nie.

Die res van die volmaanpieknieks is op 11 November, 10 Desember (met Kersvader), en dan op 7 Januarie, 4 Februarie en 4 Maart in 2023.

Vir meer inligting oor al die ander geleenthede by die Taalmonument en Taalmuseum, skakel 021 872 3441/863 0543 of besoek taalmonument.co.za.

Die webtuiste bied virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms.

You need to be Logged In to leave a comment.