Ek onthou nog hoe gelukkig ek was toe my pa vir my die eerste keer ’n Kersgeskenk gekoop het.
Dit was meer as vyftig jaar gelede. Die geskenk was ook omdat ek standerd ses geslaag het. Die geskenk was ’n rooi viewmaster met drie ronde skyfies met sewe paar driedimensionele prente op elk.
Vir die eerste keer kon ek en my maats in die destydse sandstrate van Amstelhof ook ’n bietjie meer van die wêreld te sien kry, so asof die tonele hier voor ons was. Die sewe wonders van die wêreld en die lowerryke plantegroei van eksotiese eilande Pemba en Zanzibar was gewilde kykgenot. Televisie en selfone was daar toe nog nie.
Nadat ek getroud is, het my seun wat op laerskool was een middag by die huis aangekom met ’n gesig wat straal van opgewondenheid.
Hy het kom vertel dat sy standerd- tweejuffrou aangekondig het dat sy die klas per trein op ’n uitstappie Kaapstad toe sou neem om verskeie besienswaardighede te gaan besoek. Dit was vir hul jaareindfunksie. In daardie stadium was ons self nog nie so vermoënd om ons kinders op soortgelyke uitstappies te neem nie. Die vreugde op my seun se kindergesiggie daardie dag toe hy die nuus kom oordra, sal ek nooit vergeet nie. Hy was behoorlik in die wolke.
Dit is weer daardie tyd van die jaar dat ons die “groot dae” nader. Die gedagte aan geskenke draal in feitlik almal se koppe. Veral geskenke vir ons kinders en kleinkinders, maar ook geskenke vir ander kinders en volwassenes.
Onlangs lees ek in ’n taalhandboek, Afrikaans My Taal 9/10, ’n roerende tydskrifartikel van ’n toneeltjie wat sigself op Kersdag 1963 sou afgespeel het: Die storie van die rooi lorrie. ’n Seuntjie wat terminaal siek is met kanker en baie pyn verduur, skryf aan die koerant vir ’n geskenk vir Kersfees. Hy was egter baie spesifiek dat dit ’n rooi lorrie moet wees. Die joernalis bring op Kersdag die geskenk. Die seuntjie roep dan sy jonger broertjie nader en oorhandig die rooi lorrie aan hom met die woorde: “Hier is die lorrie wat jy so graag wou hê. Ouboet het mos belowe jy sal hom kry.” Op dié dag is twee kinderhartjies besonders bly gemaak – en die pyn van die ouer boetie se kankerstryd vir eers vergete.
As kinders gelukkig en plesierig is, bring dit ook vreugde en geluk oor ons as volwassenes.
In hierdie feestyd sal kinders oudergewoonte aan Kerskonserte en Kerskore deelneem. Watter vervullende en verrykende ervaring is dit nie om die kindertjies so te sien optree nie! So opreg, ongekunsteld en onpretensieus. Hulle is vir ons die opperste vergestalting van onskuld en die belofte van ’n mooi en beter môre. Maar dit is in ’n groot mate ook ons as volwassenes wat die sleutel tot die toekoms vir ons kinders inhou.
Derhalwe is dit so tragies en hartverskeurend dat baie grootmense menige kind so dikwels van sy of haar toekoms beroof. Kinders moet nie ontbering ly nie. Nie honger gaan slaap of koud kry nie. Kinders moet nie hartseer of vreesbevange wees nie. Kinders moet nie seergemaak of leed aangedoen word nie. In haar roman Fiela se kind skryf Dalene Matthee: “God vergewe ons baie, maar God vergewe ons nie die kwaad wat ons ’n kind aandoen nie.”
Dit is ons plig as volwassenes om ons kinders te beskerm en veilig te hou teen gevare wat op allerlei onverwagte plekke en tye kop uitsteek. In die tyd waarin ons nou lewe is dit absoluut noodsaaklik dat ons voortdurend waaksaam en paraat moet wees. Die booswigte gee nie om vir wie hulle seermaak nie en die trauma en hartseer wat dit tot gevolg het nie. Solank hulle net hul sieklike drifte en drange kan bevredig.
Ons kinders sorg vir vreugde, geluk en harmonie in ons huishoudings, in ons families, in ons gemeenskappe en in ons samelewings. Hulle is die nuwe generasie. In hulle is gesetel ontelbare potensiaal wat wag om ontgin te word. Die belofte van iets mooiers en beters as wat ons dalk in ons dag des lewens ervaar het.
Om ’n kinderhart bly te maak is onskatbaar. Dit is ’n ervaring wat daardie kind vir ewig bybly. Daarom is dit belangrik dat ons as volwassenes deurentyd daaraan gedagtig moet wees, en dit doelgerig moet nastreef.
Benewens verjaardae en ander feestelike geleenthede bied die Kerstyd een besondere geleentheid om daadwerklik enige kinderhart bly te maak. Of dit nou is deur middel van ’n geskenk, ’n uitstappie, ’n vriendelike gebaar of selfs random acts of kindness. Kinders verwag nie veel nie. Hulle wil net voel hulle word liefgekry en daar word vir hulle omgegee.
Dit is belangrik dat ons kinders gelukkig moet wees, die vreugde van kindwees ten volle geniet en die wêreld as ’n goeie plek ervaar. ’n Plek waarin hulle veilig en geborge voel – ’n plek waarin hulle self ook eendag hul eie kinders sal wil grootmaak.