Noudat ons probeer om die lig aan die einde van die Covid-19-tonnel te sien, moet ons alles in ons vermoë doen om toeriste na ons land terug te lok.
Die nuus is dus skokkend van die buitelanders wat in die land aangekom en na die Drakenstein-vallei vir die eerste deel van hul vakansie onderweg was, maar die vrou en haar kind op die Kaapstadse lughawe agter tralies aangehou is.
Die owerhede was van mening die kind se paspoort was nie in orde nie, terwyl dit volgens Duitse standaard alles in die haak was.
Na hierdie dae lange debakel is die vrou en haar kind uiteindelik met hul familie op ’n Paarlse gasteplaas herenig.
’n Mens kan jou net indink dat ander besoekers wat met sulke vyandige gasvryheid in ’n land verwelkom word, sekerlik eerder op die eerste vlug terug na hul tuisland geklim het.
Toerisme het immers die potensiaal om jaarliks ’n geldinspuiting van miljarde rande in ons land in te bring, asook om duisende werksgeleenthede te skep.
Dus kan ons dit die minste bekostig dat burokratiese rompslomp enige vorm van toerisme kelder.
Daarbenewens is die galgehumor hieroor dat toeriste wat baie geld betaal om Suid-Afrika te besoek, met sulke vyandigheid behandel word – dit terwyl onwettige immigrante wat die land duur te staan kom, vrylik oor grense heen mag beweeg.

