“Manna uit die hemel!”
Dit is hoe die Karoo-boere uit Williston die naweek se Strooidakkerk-Williston-fees in die Paarl beskryf.
Dit is die negentiende fees wat deur die Karoo-boere en Paarliete gehou word en het deur die jare van krag tot krag gegaan.
Hierdie besonderse fees lok Bolanders van heinde en verre om hulle te kom verlustig in die oorvloed van Karoo-lamprodukte wat persoonlik deur die Williston NG gemeente voorberei word.
Van Vrydag- tot Satermiddag brand die braaivure hoog om genoeg kole te voorsien vir die reuse-hoeveelheid lam wat gebraai word.
Van skilpadjies tot die heerlikste sosaties is op die spyskaart vir die vleislustige publiek.
Die fees is destyds gebore toe die gemeenskap van Williston in die wurggreep van ’n erge droogte was.
Slegs ’n handjievol boere in die distrik kon toe die NGK Williston met al sy ander gemeenskaplike verpligtinge finansieel bystaan.
Dus het die gemeente gesukkel om te oorleef en die Strooidakkerk is om raad genader.
Die idee van ’n gesamentlike basaar is toe gebore, met die groot aantrekkingskrag, die lamsvleis.
Nou, 19 jaar later, is die fees nie net ’n hoogtepunt op albei gemeenskappe se kalenders nie, maar ook een van die Paarl se hoogtepunte.
Attie Fourie van die Strooidakkerk het gesê die fees is gebore uit ’n droogte en nou het dit ook die Covid-19- pandemie asook nog ’n verwoestende droogte oorleef.
Die fees het deur die jare in so ’n mate gegroei dat dit van die kerksaal na die kerk se parkeerterrein verskuif moes word en toe weer na De Poort en daarna na die Parys-sportvelde.
Covid het egter die fees teruggedwing na die kerksaal en vanjaar word dit weer op die parkeerterrein gehou.
Attie het gesê hoewel die Karoo- droogte vanjaar gedeeltelik gebreek is, is boere steeds hierdeur geknou, maar hulle het wel 244 lammers aan die fees geskenk.
Daarbenewens is 12 000 sosaties, waarvoor die fees bekend is, voorberei, 200 kg boerewors asook ander vleis-lekkernye.
Dan sal daar baie ander heerlike lekkernye te koop aangebied word soos tuisgebak, basaarpoeding, vars groente en die immergewilde wit-olifant-tafel.Die fees skop Vrydagoggend af met ’n vroue- ontbyt met Marciel Hopkins as gasspreker. Vrydagaand vind ’n musiekkonsert en hamburger-ete in die feestent plaas, maar kaartjies hiervoor is reeds uitverkoop.
Saterdagoggend brand die braaivure weer en die dag begin met ’n plaasontbyt.
Daar sal ook ’n watergat wees met lewendige musiek.. The annual combined festival of the NG churches Strooidak and Williston will be held this weekend again.


