Die eerste van die vallei se groot rugby-derbies vanjaar, Paarl Interskole 2023, het vandeesweek amptelik afgeskop met ’n mediadag gehou by Simonsvlei-wynkelder in die Paarl.
Die eerstespan rugby-, netbal en hokkiekapteine is daar bekendgestel.
Vanjaar is die 107de Interskole tussen Paarl Gimnasium en Höer Jongenskool Paarl. Die eerste kragmeting het in 1915 plaasgevind met ’n 10-0 wen deur HJS. Verlede jaar was 26-24 in HJS se guns.
Sedert die ontstaan van Interskole, wat beskou word as die grootste skole-derby ter wêreld, is daar slegs drie keer wat die twee skole nie teen mekaar gespeel het nie – in 1928 en dan in die twee jaar van Covid-19. Gimnasium het 48 keer die septer geswaai en Boishaai 44. En die twee spanne het 11 keer gelykop gespeel.
Die jaarlikse Interskole tussen hierdie twee rugbyspanne, van die gedugste in die land, is geen gewone kragmeting nie.
Daarvan getuig die sowat 25 000 toeskouers wat vir die geleentheid opdaag. Om nie eens te praat van die dosyne oudleerlinge (selfs van oorsee) wat vlugtig hul morele steun kom verleen nie.
Vandeesweek het Gim se eerste rugbyspan se kaptein, Kyle Smith en Divan Fuller van Boishaai, gesê dat hulle honger is vir vanjaar se Interskole.
Smith het gesê dat hulle steeds bou op ’n baie goeie jaar waar hulle nog net een wedstryd verloor het, teen Grey-kollege van Bloemfontein, en dan die afgelope naweek gelykop gespeel het met Outeniqua. Verder het die span al hulle wedstryde gewen.
“’n Hoogtepunt vanjaar was beslis ons oorwinning oor Affies.
“Ek moedig die span aan deur hulle te herinner vir wie en vir wat ons speel. Daar is wel nie motivering nodig nie, want om Gim se eerste rugbyspan te verteenwoordig, is genoeg motivering.
“Ons coaches het die beste moontlike spelers gekies; spelers wat hulle vertrou en ondersteun. Ons het wel ’n paar beserings, maar ons het goeie spelers om hulle vir die wedstryd te vervang.
“Boys’ High het altyd ’n goeie span en ek verwag dat hulle niks minder as hulle heel beste gaan gee nie. Dit ’n groot voorreg om teen hulle te speel en ek glo dit gaan ’n baie goeie en harde wedstryd vir albei spanne wees.”
Hoër Jongenskool het wel tot dusver nie ’n baie goeie jaar gehad nie.
Fuller sê op sy beurt dat die span gekniehalter is deur beserings, maar hy glo dat kernspelers volgende Saterdag terug sal wees op die veld.
“Ons het hieroor ’n uitdagende jaar gehad vol ups and downs, maar ek is vol vertroue al ons harde werk op die dag beloon gaan word.”
Gim is in die tweede posisie as top rugbyskool in Suid-Afrika en Boishaai is sesde geplaas.
Maar soos wat enige geharde Interskole-ondersteuner deur die jare weet – op die dag en tot en met die blaas van die eindfluitjie, kan enigiets gebeur.
Interskole 2023 vind die hele week volgende week plaas, eers met die laerskoolspanne.
Die hoërskole sport is as volg: seuns hokkie is op 2 en 5 Augustus; meisies hokkie 3 Augustus; netbal 3 en 4 Augustus en rugby 4 Augustus, almal op Gimnasium se velde.
Die hoof rugbywedstryde vind Saterdag 5 Augustus plaas op Faurestraat met die o.19A-rugbyspanne wat om 16:00 afskop.