Ek gebruik altyd The Good Book, soos ons Kanadese vriend die Bybel genoem het, as kompas om morele hoë grond te handhaaf. Ek weet mense sonder Bybelse riglyne kan dit ook doen en weliswaar so maak. Hoewel ons vertrekpunt nie dieselfde is nie, is die uitkoms dieselfde, want mense word gebore met ’n begrip van reg en verkeerd. Deur wie en wat en hoe en wanneer dit in ’n mens geplaas word, sal ek nie ’n opinie lug nie.
Daar is ’n legio argumente deur verskillende groepe en denkers daarvoor en daarteen. Dikwels word allerhande redes, oorsake en vingerwysings gebruik in die moderne wêreld se siening wanneer immoraliteit bespreek en bepraat word. Meermale is die uiteindelike gevolgtrekking dat die immorele oortreder in ’n wattetjie toegedraai word met ’n ‘foeitog, daar was goeie rede’ vir die optrede, selfs sou dit absolute barbarisme wees – ongelooflike verskonings deur diegene wat allerhande redes soek om verkeerd reg te laat voorkom. Oor die verskoningsoekers: ek wonder in wie se goeie boekies moet hulle wees? Of is dit dalk net skynheiligheid?
Aangesien, volgens The Good Book, daar niks nuuts onder die son is nie, is die onderwerp van moraliteit eeue gelede ook onder die loep geneem. Onder die agtiende eeuse filosowe was William Kant die bekendste en sy oortuiging, wat deur ander onderskryf is, was dat alle mense weet wat reg en verkeerd is en elkeen besluit hoe hy daarmee maak. Ek is seker toe reeds het die gewone mense wat hul verstand gebruik het, dit hoeka geweet. Die “hoog geleerdes”, soos skoonpa gesê het, of “dié wat baie letters gevreet het”, volgens my onderwyseres-skoonma, moes eers navorsing daaroor doen en filosofiese handboeke skryf.
Vir my is die duidelike antwoord op die vraag weer eens Bybels, want “soos wat die mens in sy siel bereken, so is hy”. Of, volgens sielkundiges: “Jy is wat jy dink”. En dan die een wat die Taal van die Veroweraar so perfek sê: “We live by our choices.” Niemand van ons leef net vanself en alles gebeur sommer net nie – hoewel dit so lyk wanneer ek na die geklikheid rondom my kyk. Omdat ons nie alleen op ’n eiland lewe nie, is verantwoordelike keuses belangrik.
Wanneer ek sien hoe mense lewe en wat hulle doen en sê en hul reaksie op iets wat gebeur, lyk dit asof hulle nie besef ons ingesteldheid teenoor die lewe sal altyd in ons optrede wys nie.
Dit word altyd gedryf deur ’n besluit en besluite maak altyd rimpelings.
Dis soos daai klippie wat ons in die water gooi. Die uitwerking van die rimpelings hang af van die grootte van die klip. Daarom behoort ons keuses nie selfsugtig of selfgesentreerd te wees nie. Dis nie net in belang van ons eie menswees nie, maar ook belangrik vir harmonie in ons verhoudings. Sommige besluite kan ’n hele gemeenskap raak en selfs baie wyer uitkring, afhangende watter posisie jy beklee.
Al daaroor gedink: Voordat jy in die oggend jou voet uit die bed sit, het jy óf hardop of in jou gedagte óf in jou gesindheid, óf deur jou laaste gedagte voordat jy aan die slaap geraak het, onbewustelik reeds bepaal hoedat die dag gaan wees? Is die eerste gedagte dankbaarheid, is alles ineens makliker – dankbaar veral oor die dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar: Oor gesondheid, loop, sien, praat, hoor, ruik. proe, eet, sluk, ensovoorts; ’n veilige nagrus met ’n eie dak oor jou kop; dat jy werk het, al hou jy nie van die werk of jou baas nie; dankbaar vir ’n motor, al is dit nie die nuutste model nie; vir kos, al is dit nie by Woolworths gekoop nie; en klere, al is dit nie boetiek-uitrustings nie. Hoe jy jou dag begin, is ’n bewustelike keuse wat jy maak en dit sal altyd subtiel die verloop van die hele dag bepaal, met al die lekker en sleg wat oor jou pad kom.
Ek kyk na my geskrewe slimmighede hierbo en kan nie anders as besluit dat Suid-Afrika se ondergang ná 1994 tydsaam bewerkstellig is deur ondeurdagte, selfsugtige, selfgerigte, selfgeldende besluite wat soms wêreldwyd uitkring en weerklank vind nie. Die beste beskrywing in dié verband is Frank Opperman se befaamde woorde in een van sy TV- reekse. “Mense wat dink hulle is donners smart is nie altyd so donners smart nie.”
Ekskuus vir daai glip van die tong. Het mos besluit om nie weer ’n swetswoord te gebruik wanneer ek die negatiewe gevolge van die meeste besluite in die nuus sien nie. Ek kan nie anders as om te dink dat moordenaars, aanranders, kapers, diewe en geldwassers buite en binne die regeringskringe moes besluit het dit te doen nie? Want hoe anders? Of is dit ’n duister, onsigbare mag wat volle beheer uitoefen oor hul lewe? Indien so, mag daar, vir ons álmal se beswil, duisende opskiet wat vanuit die onsigbare Lig besluite neem.
I rest my case your honour.