Vrydag 16 Junie is Jeugdag, wat ’n openbare vakansiedag is. Uit die Paarl “Spiekeries-ateljee” gee ek die volgende aan u deur.
Ek wil uit ’n klankargief ’n legendariese rugbykommentator aanhaal, vanuit ’n opname van die eerste toets op Loftus Versveld in Pretoria op Saterdag 25 Julie 1970 tussen die Springbokke en die All Blacks.
As die arm van die platespeler op die oorspronklike MFP besparings-langspeelplaat (MFP54560) sak, sê wyle Gerhard Viviers (Spiekeries) onder meer: “Strahan, dié staan daar, en Piston van Wyk, dié staan in die onderkant, en die twee manne kyk mekaar so in die oë in dan sê hulle ‘nee wat – kom ons gaan aan kêrels. Dit was nog ’n skoon wedstryd dusver, kom ons speel mooi rugby.’
“En pragtig vir hulle twee, sak hulle in die vaste skrum en Dawie de Villiers moet ingooi . . .”
Die boodskappe aan die jeug is: Speel ’n skoon wedstryd en speel mooi rugby wat Suid-Afrika se nommereen-sport is.
En soos wyle Gerhard Viviers sy brief gedateer 6 Julie 1996 aan my afgesluit het met die woorde: “Geniet jou rugby.”
Só wil ek, Hennie, aan die jeug sê: “Geniet julle rugby” en sorg dat jy ’n skoon wedstryd speel.
Dankie dat u dit alles gelees het.