Die algehele prentjie in Suid-Afrika lyk maar taamlik bleek. Wel, stel dit so – dit lyk al jare lank bleek, maar tog het baie van ons gehoop dinge sal begin rigting kry en die land sal uiteindelik vorentoe beweeg.

Maar ongelukkig nie.

Korrupsie en bedrog in staatsgeledere seëvier, misdaad is buite beheer, rentekoerse is weer hemelhoog, die petrolprys dreineer ons beursies, kospryse styg daagliks, werkloosheid staan op nuwe rekordhoogtes en politieke onstabiliteit bly op ons voorstoep.

Met al dié probleme en meer het ons nie juis baie om oor te glimlag nie.

Dus is talle Suid-Afrikaners, van alle rasse, nou besig om groener weivelde te soek.

Volgens die VN se departement van ekonomiese en maatskaplike sake het 914 901 Suid-Afrikaanse burgers tussen 2015 en 2020 geëmigreer. Die skatting is dat ongeveer 11% van die bevolking nog die pad wil vat. Baie van hulle is hoogs gekwalifiseerde mense wat die land die minste kan bekostig om te verloor – die brain-drain, soos dit bekend staan.

Ek begin self wonder of die toekoms hier die moeite werd is.

Ek kyk net na my sosialemediablaaie en besef oor die laaste klompie jaar het hoeveel van my eie vriende en familie die pad gevat.

Dan ook sien ek gereeld hoe ouer kennisse se kinders die land aan die verlaat is – my eie dogter is reeds drie jaar daar anderkant. Die groot verlange lê voor vir baie van ons.

Emigrasie uit ons mooie land is niks nuuts nie. As laerskoolkind in die sewentigerjare het van my skoolvriende se ouers toe al sak en pak begin emigreer. Die rede hiervoor was hul teenstand teen die vorige regime se onderdrukking.

Maar nou, meer as ooit te vore, word gevrees dat hierdie land maar net nog ’n onstabiele Afrikaland gaan word, en ongelukkig is die skrif reeds aan die muur.

Die gedagte dat ek in ’n impulsiewe en emosionele besluit dalk my tasse sal pak en in die voetspore van derduisende mede-Suid-Afrika­ners volg, laat my maag bollemakiesie slaan uit vrees.

My vriende sal getuig dat ek dit nooit in ’n ander land sal uithou nie. Ek is te lief vir die buitelewe, jag, kreefduik, braai en die lang, warm somers.

Toe ek hoeka nou die dag met ’n vriend hieroor praat, het hy gesê dat ek dit nooit daar anderkant sal oorleef nie. “Dis net nie jy nie.”

Dit is seker inderdaad so. Ek ken immers die Europese lang winters en kort dae; die koulike piepklein blyplekkies tussen beton versteek; die kil gemeenskap wat nie sy buurman wil ken nie.

En as ek so deur die Boland ry en ons beeldskone mooi berge en wingerdlande om my sien, wil my hart breek – die Weskus om die draai, wat soos ’n riem onder my hart lê, en dan natuurlik ook die oop vlaktes van die Karoo waar my hart eintlik lê.

’n Mooier land kan ’n mens seker nie kry nie.

Maar agter in ’n mens se kop wonder jy hoe dit oor die volgende paar jaar gaan wees.

Gaan boere verder van hul plase gegooi word? Gaan ’n miljoen rand een brood koop? Gaan my buurt leegloop soos my bure die pad vat? Gaan die middedorp nog verder verval en gaan hierdie verval oorloop in ons pragtige, historiese Hoofstraat in?

En dan kom ’n vriend en sy familie nadat hulle bykans 20 jaar in die vreemde gebly het, terug weens die groot verlange na hul tuisland, net om ’n jaar later weer terug te trek weens min werksgeleenthede en powere salarisse wat vir hom en sy vrou se professionele werk betaal word.

Nog ’n vriendin kom terug met haar Japannese man, want die koue van Europa het net te veel geraak. Skaars twee maande later word haar man deur ’n rower met ’n mes aangehou en hy wil nou terug.

Jou veiligheid en gemoedsrus is baie meer werd as eindelose, asemrowende sonsondergange.

Dan onlangs is ’n goeie vriendin op haar plaas aangeval en vir twee ure vreesbevange gyselaar gehou terwyl elke laaste besitting van haar gesteel word. Die geestelike skade wat sy hier opgedoen het, sal haar lewe onherroeplik verander.

Is dit regtigwaar hoe ons die res van ons dae moet vertoef – in vrees?

So, wat staan ’n mens te doen? Jou hart lê hier, maar jou kop sê trek.

David Kramer het dit in die tagtigerjare so mooi gestel met sy Baboondogs-album Are you thinking of staying, or are you thinking of going away?

Ons dink maar nog.

You need to be Logged In to leave a comment.