Die afgelope fees in die Breytenbach-sentrum op Wellington se Digterstuin, was ’n dawerende sukses.
Volgens Theo Kemp, bestuurder van die sentrum, was daar vanjaar opvallend groot getalle jongmense wat die fees bygewoon het. Dit was ook opvallend om te sien hoe goed die belangstelling verspreid was tussen programme met ’n ligte aanslag, soos Refentse Morake se program en ander met ’n meer klassieke aanslag, soos die klassieke konsert wat Sondag in die Godnow-saal op die dorp aangebied is.
Besoekers kon nie uitgepraat raak oor die hoë standaard wat deurgaans gehandhaaf is met aanbiedinge soos In die Omtes van die Hart, Jana Cilliers se aangrypende vertellinge uit die verhale, poësie en vertellinge van Petra Muller en met geselsprogramme soos dié met Lizette Rabie, Joan Hambidge, Gilbert Gibson en Louis de Villiers se gesprekke oor die digter Izak de Villiers se werk.
Tientalle besoekers wat ver gereis het om die fees by te woon het gesê die Breytenbach-sentrum se Fees in die Digterstuin is besig om jaarliks ’n splinternuwe hoogtepunt te bereik.


