Die hart van Wellington is omskep in ’n wonderwêreld van klank en kleur.
Tuin van Digters, die Wellingtonse digtersfees, het vanjaar 15 en 16 September weer ’n wêreld geskep waarin die land se voorste digters deur ’n verbysterende spel met woorde ons met splinternuwe oë na die dinge om ons laat kyk.
Die klanke wat die lug by die fees gevul het, het gekom van Tribal Echo wat van Adam Small se gedigte getoonset het, Riku Lätti en die Wasgoedlyn en groepe musikante van Wellington en omgewing.
Onder die digters wat by die fees opgetree het, was Bibi Slippers en Diana Ferrus.
Die Ingrid Jonker-prys is aan Hilda Smits vir haar debuutbundel, Die Bome so reusagtig soos ons was toegeken en Wilma Stockenström is vir haar werk by die Tuin van Digters gehuldig. Oor die baie praat met en oor bekende digters was die werk van Breyten Breytenbach die inspirasie vir die skep van hierdie digtersfees.
Uitdagend Skeppend, die prag-uitstalling deur ’n groot groep bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars, het in die Breytenbach-galery gesorg vir ’n oorvloed van kleur by die fees.
Ondanks ’n koue aandwind wat gedreig het om besoekers weg te hou, het mense van heinde en ver na die Breytenbach-sentrum gestroom om deel aan die feestelikhede te neem.
Wellington se Tuin van Digters-fees is besig om van krag tot krag te groei; dis ’n fees wat in die jare wat voorlê besoekers van alle uithoeke van die land toenemend na Wellington gaan lok.